Die Vryheidsfront Plus sê sy versoek aan Madonsela in Julie 2012 om ondersoek in te stel na die tenderprosedure van die Mpumalanga provinsiale regering vir die winkelpersele op Pelgrimsrus, het vrugte afgewerp. “Soos die vermoede was, is die tenderprosedure vergiftig deur growwe onreëlmatighede en wanadministrasie waarvan sommige aspekte bedrog daarstel. Die VF Plus is verheug dat die verslag die waarheid ontbloot het. Veral die opdrag dat alle nuwe kontrakte gekanselleer word is van groot belang. Dis ‘n vroeë Kersgeskenk vir die besigheidseienaars,” het adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor ekonomiese sake, gesê. “Ons sal nou die verslag behoorlik bestudeer en dan besin of ons kriminele klagtes teen die oortreders sal lê.”
Madonsela het bevind dat die proses gekenmerk is deur growwe onreëlmatighede en wanadministrasie. Pelgrimsrus is ʼn nasionale erfenisterrein en toeriste-aantreklikheid waar ondernemings die geboue huur van sowat R1 700 per maand. Daar is 21 ondernemings in die dorp en die besighede, wat die eiendom huur, word deur ʼn tenderproses bepaal. Madonsela sê die bewerings wat ondersoek is, hou verband met die behoorlikheid van die keuringsproses en die kwalifikasie van sommige van die bieërs wat uiteindelik gekies is.
Lees ook:
Pelgrimsrus-tenders was onwettig
Staat staan steeds Pelgrimsrus kleinsake teen
Video: Dinge gaan nou goed in Pelgrimsrus
Planne vir Pelgrimsrus
Pelgrimsrus-sakelui wen hofsaak
Pelgrimsrus glo te wit
Pelgrimsrus-sakelui veg uitsettings
Uitsettings skok Pelgrimsrus-gemeenskap