VF+ soek ondersoek na EFF se uitlatings teen wittes

EFF-banners-racistDie Vryheidsfront Plus het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) versoek om die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) te ondersoek vir hul beweerde opruiende uitlatings en aanhitsing van geweld teen wittes.

Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, sê hulle het die OVK en die MRK versoek om die EFF te ondersoek aangesien sy party glo dat van die EFF se uitlatings ongrondwetlik is. Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, het die Vryheidsfront Plus se klag as ʼn reaksie teen ʼn politieke teenstander beskryf. “Hulle is nie in staat om die pil te sluk dat ons ʼn wettige party is en hier is om te bly nie. Hulle blyk ook uit voeling en irrelevant te wees vir mense se daaglike denkwyse en wil hê ons moet hulle in ag neem en in gesprek met hulle wees want hulle besef dit is die enigste manier om relevant te wees.” Mulder beweer dat “opruiende EFF-baniere en uitlatings op die EFF se Facebook-blad gereeld die rondes doen op sosiale media en ʼn klimaat vir geweld skep.” Van die baniere wat by EFF-saamtrekke vertoon word, sluit in: “A revolutionary must become a cold killing machine motivated by pure hate” en “Honeymoon is over for white people in South Africa”. Mulder beweer dat die “gevolgtrekking duidelik is dat die boodskappe teen wit mense in Suid-Afrika gemik is.” Hy sê sulke tipe boodskappe kan nie langer geduld word nie. Ndlozi sê intussen dat die EFF dit reeds duidelik gemaak het dat die boodskappe wat genoem is nie op amptelike EFF-baniere verskyn nie en dat die party hom vroeër daarvan gedistansieer het. “VF Plus is besig om te verdrink, niemand weet waarvoor hulle staan nie, hulle het geen plan nie, hulle het niks om vir Suid-Afrikaners, insluitend wit regse ekstremiste namens wie hulle beweer om te praat, te gee nie, behalwe om hulle met valse vrees te probeer oortuig dat swartes hulle in die see wil gooi.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.