Video: 19 dood toe lugballon val

Twee van die agt lugballonne voor die tragedie Foto: Christopher Michel Bron: news.com.au

Minstens 19 toeriste is Dinsdag dood toe die warmlugballon waarmee hulle oor Egipte se antieke stad, Luxor, gevaar het, aan die band geslaan en in ‘n suikerrietplantasie neergestort het.

Nege van die toeriste is van Sjina, vier van Japan, twee van Frankryk, twee van Brittanje, een van Hongarye en een van Egipte, het beamptes van die departement van gesondheid in Egipte gesê. Die lugballon se vlieënier en ʼn Britse passasier het die voorval oorleef deur glo 30 voet (9 meter) ver uit die mandjie te spring. Die Britse passasier wat die voorval oorleef het, se vrou is egter in die brand oorlede.

Die vlieënier het glo net na 07:00 reggemaak om in ʼn suikerrietplantasie te land toe ʼn gaspyp uitgetrek en die brand begin het. Die warm lug wat toe weens die brand ontsnap het, het die ballon hoër in die lug in opgestoot.

Sommige berigte dui daarop dat die lugballon tot 1 000 voet (300 m) hoog was voordat ʼn gassilinder ontplof het. Staatsbeheerde media in Egipte berig dat van die toeriste in die lugballon verkool het. Die ministerie van gesondheid het bevestig dat hulle van DNA-toetse gebruik sal maak om die oorskot uit te ken.

Die ministers van lugvaart en toerisme is glo reeds op pad na Luxor. Beamptes het reeds begin om die oorsaak van die ongeluk te bevestig en sal ook die toelatingsbewys van die ballon en vlieënier se lisensie ondersoek.

Die Los Angeles Times berig dat lugballonvaarte onder toeriste in Egipte gewild is. By Luxor het dit voorheen reeds ernstige ongelukke opgelewer. In 2009 is 16 toeriste beseer toe die ballon teen ‘n selfoontoring gebots het, en die jaar tevore is sewe toeriste in ‘n soortgelyke ongeluk beseer.

Egipte se toerismebedryf trek nog steeds noustrop sedert die opstand teen pres. Hosni Mubarack twee jaar gelede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.