Video: 77 sterf, 1 oorleef vliegongeluk

Die ongelukstoneel in Algerië

Die ongelukstoneel in Algerië

‘n Video van die ongelukstoneel volg onderaan die berig. Altesaam 77 mense is dood nadat ʼn weermagvliegtuig Dinsdag in Algerië neergestort het. Slegs een persoon het die ongeluk oorleef.

President Abdelaziz Bouteflika het drie dae van nasionale rou aangekondig wat Woensdag begin. Hy het die soldate, wat in die ongeluk omgekom het, as “martelaars” beskryf.

Daar was 74 passasiers, soldate en hul families, en vier bemanningslede aan boord die C-130 Hercules-vliegtuig, toe dit in die Oum El Bouaghi-streek neergestort het, het die ministerie van verdediging gesê.

Die sekuriteitsbronne en staatsmedia het vroeër berig daar was 103 mense aan boord, maar die ministerie wou nie ʼn verduideliking gee vir die teenstrydigheid nie.

Nooddienste het reeds die liggame van die persone uitgehaal, insluitend die oorskot van vier vroue wat in die ongeluk omgekom het.

Die oorlewende is met kopbeserings na ʼn militêre hospitaal geneem.

Die vliegtuig was van Tamanrasset na Constantine onderweg toe hy kontak verloor het met die beheertoring. Constantine is ongeveer 320 km van Algiers. “Die Hercules het omstreeks 11:00 in die Fertas-berg vasgevlieg,” het kol. Lahmadi Bouguern, woordvoerder vir die weermag, aan APS gesê.

Die ministerie het gesê slegte weerstoestande, insluitend ʼn storm en sneeu, het tot die ongeluk gelei.

Nagenoeg 250 nooddiensbeamptes is na die toneel ontplooi ondanks die moeilike terrein en ysige toestande.

Een van die vliegtuig se twee vlugopnemers is reeds opgespoor, het El Watan, ʼn Algeriese koerant, op sy webwerf berig. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.