Video: Afrigter in die sop na hy skeidsregter bydam

ʼn Uittreksel uit die video wat die afrigter in die sop laat beland het.

Die lot van Schalk Snyman, die afrigter wat in ’n video betrap is dat hy ’n top-Saru-skeidsregter ná ’n skolerugbywedstryd met die skouer gekap en gevloek het, sal in ’n tugverhoor van die Valke beslis word.

Beeld berig Doom Gous, voorsitter van die Valke-skolerugbyvereniging, het Maandag ná ’n vergadering met die Valke-rugbyunie gesê die verhoor sal vandag gehou word.

Snyman is die Hoërskool Dr. E.G. Jansen se eerstespan-hulpafrigter. ’n Videograaf het hom betrap toe hy Mlungiseleli Mdashe, skeidsregter in die wedstryd waarin E.G. Jansen se eerste span teen die Hoërskool Kempton Park verloor het, van agter met die skouer kap. Die video wys hoe Reghardt Botha, die hoofafrigter, en Snyman in ’n vuurwarm argument met Mdashe betrokke raak. Daarna kom Botha terug om weer heftig met Mdashe te praat. Enkele oomblikke daarna het Snyman Mdashe getref, weggestaan en op hom geskree. “Toe ek sien dis (Schalk) Snyman wat my van agter af skouer, was ek geskok en teleurgesteld. Ons ken mekaar,” het Mdashe Maandag aan Beeld gesê.

Mdashe word beskou as een van die 25 top-skeidsregters in die land.

Snyman het nie op versoeke om kommentaar gereageer nie.

Leon de Beer, skoolhoof van EG Jansen, het homself van Snyman gedistansieer en gesê “Snyman is nie ’n onderwyser by die skool nie. Ons sal wag om te sien wat die Valke besluit en daarvolgens handel.”

Beeld het dié video oor die voorval op YouTube gelaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Dit is werklik betreurenswaardig. Nou kan ‘n mens verstaan waarom die spesifieke skool se spelers gedurig in die nuus is vir vuilspel. Hulle het die perfekte voorbeeld. Die persoon behoort onmiddelik uit rugby verwyder te word en nooit ooit weer toegelaat word naby ‘n rugby veld nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.