Video: Al singend die nuwe jaar in, al sit hulle steeds vas in Antarktika

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

Die video volg onderaan die berig. Sterk wind en reën het die helikopter-redding van passasiers op ʼn Russiese skip, wat naby Antarktika in die ys vasgekeer is, Woensdag verhoed.

Die Akademik Shokalskiy, met sy 74 passasiers en bemanning aan boord, het nog nie beweeg sedert dit op 24 Desember, sowat 100 seemyl van die Franse basis, Dumont d’Urville gestrand geraak het nie.

Pogings om die skip te bevry deur ander ysbrekers was tot dusver tevergeefs en die regering in Australië het Dinsdag bekend gemaak die Aurora Australis kan ook nie by die skip uitkom nie.

“Die reddingsituasie in Antarktika bly onveranderd,” het die maritieme owerheid in Australië (Amsa) gesê. “Die helikopter kan nie in die huidige toestande vlieg nie. Dit reën en die wind waai teen tussen 20 en 30 knope.”

Die Australiese owerhede, wat die reddingspoging koördineer, beplan om die helikopter aan boord die Chinese ysbreker Xue Long te gebruik om die 52 passasiers op die skip te red, en die 22 bemanningslede agter te laat.

Die passasiers is nog in ʼn goeie luim en hulle het die Nuwejaar begroet deur ʼn lied, wat hulle geskryf het, te sing. Van die wetenskaplikes spandeer tyd deur wetenskaplike toerusting op te pak of hulle neem deel aan seminare wat insluit om te leer hoe om die salsa te dans.

Die groep kan nou maar net wag totdat hulle gered word. Hulle het tans nog genoeg voorraad en verkeer nie in enige gevaar nie.

Die Amerikaanse kuswag se ysbreker Polar Star is nou op pad na Antarktika op ʼn beplande sending om die McMurdo-stasie van voorraad te voorsien, maar Amsa het gesê die Polar Star is nog nie versoek om die reddingspoging te ondersteun nie. “Die Polar Star sal eers oor ʼn week daar aankom,” het Lisa Martin, woordvoerder vir Amsa, gesê.

Klik hier om prof. Chris Turney, die leier van die ekspedisie, op Twitter te volg en van al hul avonture te lees.

Lees ook:
Ysbreker kon nie by Antarktika-skip uitkom nie
Antarktika-skip dalk binnekort bevry
Video: Toeriste vasgeys by Antarktika

Klik hier om die lirieke van die lied te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.