Video: Amerikaanse onderminister se “f$& die EU” ontstig

Victoria Nuland en Geoffrey Pyatt.

Victoria Nuland en Geoffrey Pyatt.

Die video volg onderaan die berig. Waarskuwing: Die video bevat kru taal wat sensitiewe lesers kan ontstel.

‘n Uitgelekte telefoongesprek tussen die Amerikaanse onderminister van buitelandse Sake, Victoria Nuland en die VSA se ambassadeur in Oekraïne, het Europeërs nou warm onder die kraag.

In die gesprek met Geoffrey Pyat wat op YouTube gelaai is, oor die oproer in Kiev en ander stede, het die rol van die Europese Unie ter sprake gekom. Dit is hierop wat  Nuland, wat haar mond goed oor die EU uitgespoel het, sê: “F… die Europese Unie.”

Nuland het gevoel die VN sou beter kon bemiddel as die EU, en dat Ban Ki-Moon en die voormalige Nederlandse ambassadeur Robert Serry die aangewese mense sou wees.

Moontlik omdat Serry se naam positief genoem is, is die Nederlandse koerante oor die algemeen minder beswaard oor die Yank se onvatsoenlike bekkigheid. Hoewel die Nederlandse koerant Trouw breedvoerig oor die insident rapporteer, word nie ‘n woord oor die kragwoord geuiter nie.

Die Vlaamse, De Standaard, daarteenoor, haal die minister sommer woordeliks in die opskrif al aan.

Die gesprek sou reeds aan die einde van Januarie plaasgevind het, en het sy weg blykbaar op 4 Februarie na YouTube gevind, en Vrydag die nuusmedia getref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.