Video: ANC-jeugliga ‘geskok’ oor aanklag teen leier

Die ANC-jeugliga sê hy het met “wisselende grade van skok, ongeloof en afgryse” verneem van die aanklag van intimidasie wat teen sy adjunk-president, Ronald Lamola, aanhanging gemaak is deur die burgerregte-organisasie AfriForum na sy uitlatings oor grondhervorming.

AfriForum Jeug het Woensdag die klag teen Lamola by die Brooklyn-polisiestasie aanhangig gemaak. ʼn Woordvoerder van AfriForum Jeug, Charl Oberholzer, sê uitlatings wat haat aanhits het ʼn rimpeleffek op gemeenskappe en dra by tot verdere verdeeldheid. Lamola het Dinsdag tydens ʼn werkswinkel by die St. George Hotel in Pretoria gesê die grondwet moet verander word om die onteiening van grond sonder vergoeding toe te laat. AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, sê Lamola se uitlatings is haatspraak en is aanstigting tot geweld. Hy sê Lamola het spesifiek verwys na “die Van Tonders en Van der Merwes op plase” en gewaarsku dat hul veiligheid nie verseker kan word nie. Die ANC-jeugliga het intussen in ʼn verklaring gesê dat die organisasie, sy lede, leiers en die algemene bevolking van Suid-Afrika nie geïntimideer sal word deur diegene wat die ekonomiese status quo van die land wil behou nie. Die jeugliga het na AfriForum verwys as die “verdediger van wit voorreg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.