Video: Apple se “nuwe iPad”

Apple het pas hul nuwe iPad met ʼn hoëdefinisie-skerm bekend gestel.

Die tablet word ook deur ʼn nuwe A5X-skyfie met gevorderde grafiese prestasievermoë aangedryf.  Hoof uitvoerende beampte Tim Cook voer aan dat Apple weereens die mark herdefinieer met dié nuwe produk. Apple oorheers tans die mark maar sal moontlik later die jaar ʼn nuwe uitdaging in die gesig staar wanneer tablette wat deur die volledige Windows 8-stelsel aangedryf word, te koop aangebied sal word. Die nuwe iPad – wat eenvoudig só genoem sal word – bied ook ʼn 5 megapixel kamerasensor. Dit sal ook met 4G LTE netwerke kan integreer waar dié diens beskikbaar is en kan ook as ʼn wi-fi hotspot vir ander toestelle gebruik word indien jou bediener dit toelaat.

Die nuwe iPad is sowat 9.4 mm dik, ietwat dikker as die 8.8 mm van die iPad 2. Die basiese 16GB-model behoort jou £399 uit die sak te jaag en die 64GB-model met wi-fi en 4G sal om en by £659 kos. Volgens Phil Schiller, Apple se hoof van bemarking, sal die tablet dieselfde 10-uur batterylewe as die vorige model hê wanneer jy slegs wi-fi gebruik. Die batterylewe sal egter met ʼn uur verminder word wanneer jy van 4G gebruik maak. Die tablette sal na verwagting op 16 Maart in die Verenigde Koninkryk, Amerika, Kanada, Duitsland, Frankryk, Switserland, Hong Kong, Singapoer, Australië en Japan beskikbaar wees. Die vorige model sal teen ʼn verminderde bedrag beskikbaar wees. Volgens Schiller sal dit nou vir skole meer bekostigbaar wees om dié toestelle aan te skaf.

Kyk hier na ʼn video van die nuwe iPad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.