Die video volg onderaan die berig. ʼn Vrou van New York in Amerika moes Maandagmiddag in die winter op ʼn yskoue sypaadjie kraam toe haar babadogtertjie nie vir die hospitaal wou wag nie.
Polly McCourt het nog in Manhattan vir ʼn taxi staan en wag toe Ila minute later haar verskyning gemaak het.
Alles het boonop voor ʼn televisiespan van Fox 5 gebeur. Dié span was op pad na ʼn ander storie toe hulle die vrou op die hoek van Derdelaan en Oos 68ste Straat gesien het.
“Sy [die ma] het gesê ‘O my aarde die baba kom’, en die volgende oomblik toe sien ons die baba se kop!” het een verbyganger gesê. “Teen die tyd wat ons haar in die straat laat lê het, was die baba daar!”
“Miracle on Third Avenue!” het ʼn ander getuie gesê. Hy het grappenderwys verwys na die Oscar-bekroonde Kersfees-rolprent Miracle on 34th Street.
Polly en Ila is na Lenox Hill-hospitaal geneem. ʼn Woordvoerder het aan AFP gesê dit gaan “wonderlik” met hulle. Hulle sal tot Woensdag in die hospitaal bly voordat hulle terugkeer na hul huis in Upper East Side.
Ila Isabelle is Polly en haar man, Cian, se derde kind. -SAPA
http://youtu.be/CcoiMcBgL2w