Video: ‘Belastingbetalers hoes vir DKD-regstelsaak’

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit

Die vakbond Solidariteit het vandag bekendgemaak dat die departement van korrektiewe dienste (DKD) waarskynlik sowat R2,4 miljoen van belastingbetalers se geld gaan gebruik om sy omstrede regstellendeaksieplan in die arbeidshof in Kaapstad te verdedig.

Die vakbond sê met dié bedrag kon die verhogings wat gepaardgaan met die bevorderings waarvoor die tien applikante in die saak veg, vir twaalf jaar lank befonds word. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, sê die bedrag van R2,4 miljoen is ’n konserwatiewe berekening. “Die bedrag sluit slegs advokaatfooie in. Die DKD se regskoste het die belastingbetaler waarskynlik reeds sowat R1,3 miljoen uit die sak gejaag. Met die geld sou die departement die applikante agt jaar lank verhogings kon betaal. Hierdie berekening sluit ook nie voorbereidingskoste van die DKD se advokate, die koste van die staatsprokureur en die koste van die departement se deskundige getuie in nie. Indien hierdie koste bygereken word, kan die totale koste maklik meer as R3 miljoen beloop. Die saak is besig om in een van die duurste arbeidshofsake in die geskiedenis van Suid-Afrika te ontwikkel.”

Hermann sê in teenstelling hiermee voer Solidariteit sy saak aan met minder as ʼn kwart van die geskatte koste van die DKD se regspan. “Die vakbond het ook in teenstelling met die DKD se twee senior advokate en twee junior advokate slegs een senior advokaat en een junior advokaat. Solidariteit maak ook van een van sy personeellede gebruik as deskundige getuie, terwyl die DKD waarskynlik ten duurste vir hul getuie betaal.”

Solidariteit het weer met die aanvang van die saak uitgewys dat die DKD se regspan die eerste sewe dae van die verrigtinge teen ʼn slakkepas aangepak het. Die vakbond het ook sy ontevredenheid uitgespreek met die versuim van die DKD se regspan om by die ooreengekome spertye vir die lewering van belangrike dokumente te hou. Die DKD se regspan moes na afloop van die vorige hofsessie verskeie dokumente binne bepaalde spertye aan Solidariteit se regspan gelewer het. Al hierdie dokumente is egter maande later eers oorhandig, wat die moontlike verkorting van die hofsaak in die wiele gery het. “Dit is ʼn skokkende vermorsing van die belastingbetaler se geld en blyk vertragingstaktiek van die DKD te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Seg Net ·

Dit omrede daar nie regverdigheid in die staatsdepartemente is nie? Of liewer in die arbeid wetgewing nie. Die regte persoon vir die regte werk is mos al wat ons vra. Niks meer en niks minder nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.