Video: Bloulig-tiener eet self, praat weer

Thomas Ferreira. Foto: Facebook

Thomas Ferreira, wat verlede jaar deur ʼn LUR se ampsvoertuig raakgery is in Krugersdorp, eet nou self en het ook weer begin praat.

Thomas is op Saterdag 5 November op sy motorfiets onderweg na Randfontein deur die ampsvoertuig van die Gautengse LUR Humphrey Mmemezi raakgery. Hy is na die hospitaal geneem met onder meer ’n gebreekte arm en been, verskeie gesigfrakture en swelling en bloeding op die brein. Thomas is op 12 Desember uit die Krugersdorp-hospitaal ontslaan en in die Riverfield Lodge-rehabilitasiesentrum opgeneem. Hy is egter kort hierna weer in die hospitaal opgeneem nadat hy ʼn infeksie opgedoen het. Thomas is na sy herstel weer in die rehabilitasiesentrum opgeneem. Susan Larney, wat ʼn boek geskryf het oor breinbeserings en die Ferreira-gesin bystaan, sê Thomas het Dinsdag vir die eerste keer self geëet. Thomas het Saterdag ook weer vir die eerste keer sedert die ongeluk begin praat. Larney sê Thomas het ook gewig begin optel en reageer baie goed op die rehabilitasie. Die rehabilitasiesentrum se kostes beloop glo nagenoeg R120 000 per maand.

Die bestuurder van die ampsvoertuig, Semitsi Modomai, het Mmemezi vervoer en het glo die motor se bloulig aangesit om ʼn rooi verkeerslig oor te steek toe hulle teen Thomas gebots het. Die dossier van die ondersoek na Modomai is verlede week aan ʼn senior staatsaanklaer oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.