Video: Boeremag-lid sê hy het berou

Kobus Pretorius getuig gister ter strafversagting in die hooggeregshof in Pretoria. Sy gesig mag volgens ‘n hofbevel nie gewys word nie. Foto: eNuus

Hy kan nie nou glo dat hy daartoe in staat was om bomme te plant of ʼn staatgreep te beplan nie en hy het berou oor die dinge wat hy gedoen het.

So het Kobus Pretorius, veroordeelde lid van die Boeremag, vandag vir die tweede dag getuig ter strafversagting van sy vonnisoplegging in die Boeremag-hoogverraadsaak. Pretorius sê hy was naïef en liggelowig toe hy 10 jaar gelede aan die sameswering om die ANC-regering met geweld omver te werp, deel gehad het. “Ek het mense maklik geglo. Dis hoekom ek nie baie goed bevraagteken het of in die regte lig gesien het nie. Dit is partykeer moeilik om te glo dat ek was soos ek was, om te doen wat ek gedoen het. Met die vermoë om nou krities oor dinge te dink vind ek dit ongelooflik dat ek so naïef kon wees. Maar ek neem volle verantwoordelikheid vir my aksies. Ek sal my straf soos ʼn man vat, selfs al maak dit seer.”

Pretorius sê hy het berou oor wat hy gedoen het. “Dit was verkeerd, nie net teen God nie maar die mensdom. Ek is jammer dat ek ooit by die dade wat gepleeg is betrokke was. Ek sal nooit weer by so iets betrokke wees nie.” Pretorius het Claudia Mokone se familie om verskoning gevra. Mokone is in 2002 dood na ‘n stuk staal haar in haar sinkhuis getref het na ‘n Boeremag-bom ontplof het. “Ek wil aan die familie wat ʼn ma verloor het jammer sê oor die rol wat ek gespeel het.” Pretorius se ma, Minnie, het met haar gesig in haar hande gesit terwyl haar seun om verskoning gevra het vir wat hy gesê het. Pretorius het alle kontak met sy familie verbreek. Pretorius het ook getuig dat hy hoop het vir die toekoms en hopelik weer sal kan trou en met ‘n gesin begin wanneer hy vrygelaat word. Die verhoor duur voort.

Die verslag (onder) van eNuus is gister na Pretorius se eerste dag van getuienis ter strafversagting. eNuus word daagliks om 19:00 op kykNet kanaal 144, Dstv uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Valery giliomee ·

Kobus jy skiet jou ouers en broers deur die hart. Ergste is jy besef dit nie, maar skiet jouself deur die voet. Daar is meer mense as net jy betrokke. Hul bid vir vryheid. Se vir die hof die bleddie vrou breinspoel jou. Genade behalwe jou eie familie kom jy negentien ander mense en hul gesinne te na. Keer tot God dan sal dit met jou goed gaan. Want jy kan, deur Christus!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.