Video: Boucher tree uit

Mark Boucher, die Proteas se paaltjiewagter, het Dinsdag sy uittrede uit internasionale krieket aangekondig.

Boucher het Maandag in Taunton ’n noodoperasie aan sy linkeroog ondergaan ná ‘n fratsongeluk tydens die eerste dag van die Proteas se toer in Engeland. Boucher (35) is ernstig beseer toe ’n dwarsbalkie hom in die oog getref het. Die voorval het plaasgevind nadat die draaibouler Imran Tahir vir Gemaal Hussain skoongeboul het. Volgens dr. Mohammed Moosajee, spanbestuurder, het die dwarsbalkie Boucher se linkeroog getref en het hy ’n skeur aan die witdeel van sy oog opgedoen. Boucher, wat gewoonlik ‘n helm gedra het, het tydens die voorval net ’n pet opgehad.

“Dit is met hartseer en baie pyn dat ek dié aankondiging moet maak. Weens die erns van my oogbesering sal ek nie meer in staat wees om internasionale krieket te speel nie. Ek wil almal vir hul ondersteuning bedank oor die afgelope 24 uur. Ek word diep geraak deur al die woorde van bemoediging en goeie wense. Ek wil die Proteas geluk toewens met die res van die toer terwyl ek huiswaarts gaan keer om te herstel,” het Boucher in ‘n verklaring gesê.

Op Twitter het Boucher geskryf: “Julle ondersteuning het my op my knieë! Ek kan nie genoeg dankie sê nie. Dit gaan maar ‘n moeilike tyd wees met die oog, maar ek sal deurdruk! Die aftrede moes nou bietjie vroeër kom, maar baie dankie aan ALMAL vir al die goeie tye en moeilike tye! Julle het almal bygedra en ek is sowaar geseënd!”

Aan sy spanmaats het hy bygevoeg: “Laaste maar nie die minste nie, wil ek my Protea-familie ‘n genotvolle toer in Engeland toewens. Dit gaan moeilik wees, maar goeie vaardigheid ouens! Geen keuse! Sal kyk!”

Boucher sal onthou word vir sy deelname aan die sogenaamde “438-wedstryd” op 12 Maart 2006 te Wanderers-krieketstadion, Johannesburg. Tydens dié merkwaardige wedstryd het Suid-Afrika en Australië verskeie rekords verbreek. Australië se telling was 434/4 ná 50 boulbeurte, en Suid-Afrika het die wedstryd met 438/9 in 49.5 boulbeurte gewen. Hier is ‘n paar hoogtepunte uit dié wedstryd wat as die “beste een-dag-internasionaal” beskryf word:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.