Video: Brakke bederf by hondepiekniek

Brakke van verskeie rasse, groottes en kleure het Sondagmiddag stertswaaiend tussen hul eweknieë baljaar tydens die eerste Groot Brag-hondepiekniek wat by die Smutshuis in Irene gehou is.

Maroela Media was daar om in die pret te deel en het net soveel pret soos die vierpotiges gehad. Diereliefhebbers het van heinde en ver gekom om aan die geleentheid, wat ʼn jaarlikse instelling gaan word, deel te neem.

Die dag het afgeskop met ʼn pronkparade by die Irene Village Mall. Die pret het daarna by die Smutshuis-museum hervat waar die honde met ʼn hondepiekniek bederf is. Diereliefhebbers het ook hul bakvernuf ten toon gestel met hondekoeke wat spesiaal vir die viervoetige vriende voorberei is. Die Tshwane-DBV het die spreekwoordelike koek gevat en het saam met die Husky Rescue Centre as wenners bewys dat hulle in enige hond se smaak kan voorsien. Hul koeke is deur die hondebeoordelaars verslind. Biltong, wors, lewer, wortels en grondboontjiebotter is maar net van die bestanddele wat in dié brousels gebruik is.

Daar was ook ‘n kompetisie, Wie het sy Brakkie se Bakkies? waar Maroela Media die honde en base gekroon het wat die meeste na mekaar lyk.

Kliek hier om meer foto’s oor die geleentheid te sien.

ʼn Video oor die geleentheid is deur eNuus op YouTube gelaai:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.