Video: Bulls-ondersteuner vas na Saterdag se kragmeting

Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) sê gewelddadige gedrag van ondersteuners sal nie by Loftus Versfeld geduld word nie, nadat ʼn man tydens Saterdagaand se Super 15-wedstryd tussen die Bulls en die Blues in hegtenis geneem is.

Die BBM sê in ʼn verklaring dat Johannes Gideon Nel kort na die eindfluitjie geblaas het, na die Blues se 29-23 oorwinning, op die veld gestorm het en ʼn plastiekbottel na die spelers gegooi het. Nel het die Blues se kaptein, Keven Mealamu, met die bottel raakgegooi. “Ons weier om hierdie onsportiewe gedrag te aanvaar en het die individu in hegtenis geneem,” sê die BBM se uitvoerende hoof, Barend van Graan. “Die Blou Bulle Maatskappy werk onvermoeid om ‘n omgewing te skep wat vriendelik en regverdig is vir alle ouderdomme, rasse en nasionaliteite. Ons wil ons ondersteuners waarsku dat ongeag van ons vertoning op die veld, ons nie sal aanvaar dat ondersteuners hul woede op ons teenstanders uithaal nie.” Die Blou Bulle het sê ‘n klag van aanranding is by die Sunnyside-polisiekantoor aanhangig gemaak. “Ons sal voortgaan om nog strenger veiligheidsmaatreëls toe te pas aangesien gedrag soos hierdie nie welkom is op Loftus nie,” het Van Graan gesê. Van Graan sê die Blues het die BBM se verskoning vir die ondersteuner se gedrag aanvaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.