Die video volg onderaan die berig. China het Saterdag die derde land geword wat suksesvol ‘n tuig op die maan kon laat land.
Die Chinese bevolking kon regstreeks op televisie volg hoe ‘n landingstuig, met ‘n seswieltuig genaamd “Yutu” aan boord, op die maan land. Die lansering het reeds op 2 Desember plaasgevind, maar die tuig, die Chang’e-3, het eers Saterdag by die maan aangekom.
Die robotjeep, “Yutu” of “Jade Rabbit”, het sewe uur nadat die landingstuig geland het, na die maanoppervlak gery en diep spore daarop getrap.
Yutu sal drie maande lank verkenningswerk op die maan doen, terwyl die sonkragpanele die sterkte van die son se uitstralings sal meet. Yutu kan heuwels van 30 grade uitklim en kan ‘n snelheid van 200 meter per uur bereik, volgens die navorsingsinstituut Shanghai Aerospace Systems Engineering.
Die Chang’e-3-sending is vernoem na die godin van die maan in Chinese mitologie. Yutu is na haar troeteldier vernoem. Meer as 3.4 miljoen mense het aanlyn deelgeneem om “Yutu” se naam te kies.
China hoop om in die volgende dekade ‘n bemande ruimtevlug na die maan te kan onderneem.
Die laaste keer wat ‘n tuig op die maan geland het, was in Augustus 1976 toe die Russiese Loena 24 op die hemelliggaam geland het.
En die res van die 1,3 biljoen “robotte” in China gaan aan met hul gewone geprogrameerde take.