Video: Cosatu wil aansluit by ANCYL se massa-aksie

Cosatu het bekendgemaak dat hy sal deelneem aan die ANC-jeugliga se beplande optog vir ekonomiese vryheid van die werkersklas en die armes.

Cosatu se woordvoerder, Patrick Craven, sê die vakverbond ondersteun die kwessies waaroor die jeugliga wil betoog. Craven sê dit is nog nie duidelik hoeveel mense aan die optogte sal deelneem nie. Die jeugliga het Cosatu se ondersteuning verwelkom. Die ANC-jeugliga, het vroeër bekendgemaak dat hy op 27 en 28 Oktober ʼn massa-optog Gauteng sal hou om aan te dring op die nasionalisering van myne en ʼn gelyke deel van die land se minerale hulpbronne. Die jeugliga se woordvoerder, Floyd Shivambu, sê die massa-aksie sal afskop by die Kamer van Mynwese waarna hulle na die Johannesburgse aandelebeurs sal betoog. Shivambu sê die aksie sal afgesluit word met ʼn nagwag by die Uniegebou in Pretoria. Die jeugliga sal ook ʼn memorandum oorhandig aan die uitvoerende gesag waarin hulle aandring op gratis onderwys, die onmiddellike afskaffing van die gebruik van arbeid makelaars, werksgeleenthede vir die jeug, beter behuising en sanitasie in informele nedersettings en toegang tot water. Shivambu sê dit is hoogtyd dat Suid-Afrika se jeug gemobiliseer word om aan te dring op werk en ʼn gelyke deel van die land se rykdom, waaruit groot besighede en instellings voordeel trek ten koste van die wat voorheen benadeel is. Al die jeugliga se takke sal na verwagting aan die optog in Gauteng deelneem. Shivambu sê dis tyd vir mense om op te staan en aan te dring op wat regmatig aan hulle behoort.

Die ANC-jeugliga het ‘n skakel op sy webtuiste gelaai na die video op Youtube.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.