Video: Die wêreld se “armste” president

Die video volg onderaan die berig.

Politici word gewoonlik oor hul luukse leefstyle gekritiseer, maar die president van Uruguay is onlangs as die “armste president” beskryf.

Jose Mujica, president van Uruguay, bly op ‘n vervalle plaas en gee meeste van sy salaris weg. Sy wasgoed hang op ‘n draad buite die huis. Water kom uit ‘n put in die erf. Slegs twee polisiebeamptes en Manuela, ‘n driebeenhond, hou buite wag.

Mujica het sy luukse huis wat die staat van Uruguay vir sy leiers aanbied, van die hand gewys en gekies om in sy vrou se plaashuis, net buite die hoofstad, Montevideo, te bly.

Die president en sy vrou bewerk self die grond en kweek blomme.

Boonop skenk Mujica sowat 90% van sy maandelikse salaris, sowat $12 000 (bykans R96 000) aan liefdadigheid.

“Ek het nog altyd só geleef,” sê hy. “Ek leef gerieflik met dit wat ek het.”

Mujica is in 2009 verkies en was in die 1960s en 1970s deel van ‘n guerrilla-groep, Tupamaros, ‘n linkse groep wat deur die Kubaanse rewolusie inspireer is. Hy is ses keer geskiet en het 14 jaar lank in die tronk spandeer. “Daardie jare het my uitkyk op die lewe gevorm,” sê hy.

“Ek word die armste president genoem, maar ek voel nie arm nie. Arm mense is dié wat slegs werk om ‘n luukse leefstyl te bekostig, en die heeltyd net nog en nog wil hê,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.