Video: Die Wonderwerker: ʼn MOET sien!

Met koue en nat weerstoestande wat oor groot dele van die land dié naweek verwag word,  kan jy in jou naaste bioskoop vir die koue gaan wegkruip. Katinka Heyns se Die Wonderwerker, die storie van Eugène Marais, het Vrydag landswyd begin draai.

Die lokprent volg aan die onderaan dié artikel.

Die wonderwerker fokus op ’n episode in die lewe van die digter en wetenskaplike Eugène Marais. Dit is die jaar 1908. Marais, baie siek aan malaria, kom op die plaas Rietfontein in die Waterberge aan waar die Van Rooyen-gesin hom inneem. Die gesin bestaan uit Gys, sy vrou, Maria, hul seun, Adriaan, en ’n aanneemdogter en huishulp, Jane Brayshaw. Maria, ’n opgeleide vroedvrou en boereraatkenner, en Jane versorg Marais. Malaria is egter nie Marais se enigste probleem nie. Sedert sy vrou Lettie se dood veertien jaar gelede met die geboorte van hul eerste kind, het hy sy toevlug tot morfien geneem.

Die Van Rooyens weet byna niks van Marais nie, behalwe dat hy in die Waterberge navorsing gedoen het oor die gedrag van onder meer bobbejane, miere en ratels. Hulle is salig onbewus daarvan dat hy op die ouderdom van 38 reeds ’n omstrede koeranteienaar en redakteur in Pretoria was, in ’n reeks botsings met Paul Kruger was, in die buiteland as geneesheer en regsgeleerde opgelei is, gedigte skryf, en die eerste Suid-Afrikaner is wat met hipnose eksperimenteer.

Marais het meer as een keer tevore, hunkerend na die jong Lettie, op meisies van haar ouderdom verlief geraak. En dit gebeur weer met die agttienjarige Jane. Die situasie word egter gekompliseer deur die feit dat Maria, amper tien jaar ouer as hy, gevoelens vir hom kry. Ná sy herstel bly hy nog ’n ruk aan – waarskynlik as gevolg van Jane, hoewel hy nie sy gevoelens vir haar wys nie. Dit is egter gou duidelik dat sy ook op hom verlief is. Hulle bring soms ure alleen in die veld deur terwyl Marais navorsing doen. Dit dryf Maria teen die mure uit. Maar ook vir Adriaan, wat self gaande is oor die aantreklike Jane.

Marais voed sy verslawing met ’n voorraad morfien wat hy saamgebring het. Maria ontdek die “malaria-medisyne”, lê beslag daarop en kry sodoende ’n houvas op hom. Haar manipulerende gedrag lei tot spanning, wat vererger word deur Marais se vreemde hebbelikhede – soos om allerlei wilde diere mak te maak en in sy kamer aan te hou. En wanneer hy ’n vrou wat twaalf jaar verlam was met hipnose genees, word Rietfontein soos ’n veldhospitaal met mense wat van heinde en ver kom om genees te word.

Die lewe op Rietfontein verander dramaties – iets waaroor Gys nie gelukkig is nie. En wanneer Adriaan boonop stories begin aandra, word die tafel gedek vir die finale drama.

Vervaardiger: André Scholtz
Regisseur: Katinka Heyns
Draaiboekskrywer: Chris Barnard
Fotografie: Koos Roets
Musiek: Ben Ludik

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.