Video: “Dronk” bestuurder raak agter stuurwiel aan die slaap

Die beweerde dronk bestuurder. Foto: Wesley Adams / YouTube

Nog ʼn video is op ʼn YouTube geplaas van ʼn beweerde dronkbestuurder wat amok maak op die land se paaie.

Maroela Media het vroeër die week berig oor ʼn vrou van Nelspruit wat al twee keer op film afgeneem is waar sy bestuur terwyl sy vermoedelik onder die invloed van alkohol is. Lees meer hier.

In die mees onlangse voorval is ʼn man Maandag deur ʼn persoon afgeneem waar hy skynbaar by ʼn besige kruising agter die stuurwiel van sy Audi bewusteloos is. Die bestuurder is afgeneem met ʼn bierblikkie in die hand en ʼn bierbottel en selfoon op die passasiersitplek.

The Mercury berig Wesley Adams het in Pinetown bestuur toe hy die “slapende” man sien. Adams het ʼn polisiebeampte in ʼn staatsvoertuig, maar in siviele klere, se aandag getrek om te help. Die polisiebeampte het glo verwilderd voorgekom en was besig om met polisiebeamptes op ʼn selfoon te praat toe die Audi in die kruising begin inbeweeg het. Adams het in die voertuig ingespring en die handrem opgetrek. Die bestuurder van die voertuig het toe wakker geword en van die toneel weggejaag.

Kolonel Vincent Mdunge, ʼn polisiewoordvoerder, sê daar is sover geen saak aanhangig by die Pinetown-polisie gemaak nie. Adams het onderneem om die voorval by die polisie aan te meld sodat dit verder ondersoek kan word. Die bestuurder kon nie vir kommentaar opgespoor word nie.

Hier volg die video wat Adams op YouTube gelaai het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.