Video en foto’s: Betoging by Boswell-sirkus

Alle foto’s aan Maroela Media verskaf deur Charlotte Clark. Meer foto’s volg onderaan die berig.

Die video en foto’s volg onderaan die berig. ʼn 26-jarige vrou van Fourways in Johannesburg verskyn Maandag in die Pretoriase landdroshof nadat sy Sondag tydens ʼn betoging glo ʼn bestuurder van die Brian Boswell-sirkus in Centurion geskop het.

Kapt. Colette Weilbach, ʼn woordvoerder van die polisie, het Maandag aan Maroela Media gesê die vrou verskyn op aanklagte van aanranding asook onwettige betoging.

Sy het die man in twee keer in die polisie se teenwoordigheid geskop. Betogers is deur die Tshwane-metropolisie verbied om naby die sirkus, op die hoek van Hendrik Verwoerdrylaan en John Vorsterrylaan in Centurion te betoog.

Die vrou is glo ʼn diereregte-aktivis en het glo een van die sirkus se bestuurders, Gavin Talford, vir die eienaar, Brian Boswell, aangesien.

Charlotte Clark, een van die betogers wat aan die betoging deelgeneem het, het aan Maroela Media gesê Talford het glo seksuele gebare aan die betogers gemaak. Die vrou het na aanleiding van dié gebare oor die straat gehardloop en hom ʼn skop gaan gee.

Clark voeg by sowat 200 mense het aan die betoging deelgeneem. “Daar was hoofsaaklik twee groepe wat vir die betoging opgedaag het,” het Clark gesê. Een groep was van Activists for Animals Africa en die ander groep, Beauty without Cruelty. “Die twee groepe het saam betoog,” het Clark bygevoeg. “Daar was ook talle ondersteuners wat op Twitter van die betoging uitgevind het.”

Die betogers het omstreeks 14:00 oorkant die straat van die sirkus saamgedrom. “Mense het hul kinders, babas in stootwaentjies en selfs honde saamgebring.” Volgens Clark het hulle nie amptelike toestemming vir hul betoging ontvang nie, alhoewel die dokumente aan die begin van verlede week per hand by die Tshwane Metro in Pretoria ingehandig is. “Ons het, ondanks die feit dat ons nie toestemming ontvang het nie, steeds besluit om met die betoging voort te gaan.”

Maroela Media wag nog vir kommentaar van Georgina Boswell, Brian se dogter wat as woordvoerder vir die sirkus optree. Die sirkus vertrek vandag na die Oos-Rand.

Maroela Media het vroeër besoek afgelê aan die Brian Boswell-sirkus. Hier is ‘n video van die besoek. Foto’s van die betoging volg onder die video. Charlotte Clark het alle foto’s aan Maroela Media verskaf.

[nggallery id=120]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.