Video en foto’s: Lady Gaga land ten spyte van betogings in SA

Foto: channelo.dstv.com

Foto’s en video volg onderaan die berig.

Bewonderaars het Dinsdagaand Lanseria Internasionale Lughawe se aankomssaal volgepak in afwagting op Lady Gaga, Amerikaanse sangeres, se aankoms.

Van die bewonderaars het “Gaga, Gaga, Gaga” gedreun. Daar was ook honderde skoolkinders. ʼn Vyfjarige seuntjie het geskree: “Ek is lief vir Lady Gaga!”

Die 24-jarige Bornman de Villiers het glo op die vloer sit en huil. “Ek kan nie glo dit het gebeur nie. Ek het my idol gesien. Ek wag al so lank om haar te sien,” het hy gesê.

Die vliegtuig het omstreeks 19:30 geland. Uit vrees vir die hoeveelheid mense, het ʼn beampte van die lughawe haar gekeer om in die aankomssaal in te beweeg waar bewonderaars ʼn ‘tonnel’ gemaak het sodat sy daardeur kan loop. Teleurgestelde bewonderaars het hul misnoeë uitgeroep.

Die bewonderaars het toe na die hek gehardloop om haar moontlik daar te siene te kry. Haar konvooi van ses Mercedes Benz Vito-bussies het omgedraai en Lady Gaga het sowat vyf minute spandeer om handtekeninge uit te deel en vir die kameras te glimlag.

“Moeder-monster sorg vir haar klein monstertjies,” het Dustin August gesê.

Stefani Joanne Angelina Germanotta, beter bekend as Lady Gaga, besoek tans Suid-Afrika as deel van haar “Born this way”-wêreldtoer. Sy sal Vrydag by die FNB-stadion in Soweto optree en op 3 Desember by die Kaapstadse stadion in Groenpunt.

ʼn Groep betogers het vroeër buite Big Concerts se kantoor in Gardens, Kaapstad, betoog en Lady Gaga die “bruid van Satan” genoem. Lede van die Suid-Afrikaanse Raad vir Kerke se jeugforum het ook ʼn optog na die departement van kuns en kultuur se kantoor in Pretoria gehou en ʼn geskrewe versoek oorhandig dat die “satanistiese” sangeres verbied moet word om in Suid-Afrika op te tree. ʼn Handjievol diereregte aktiviste het Dinsdag by Nelson Mandela-plein in Sandton bymekaargekom om te betoog teen Lady Gaga wat gereeld pelsjasse dra.

Foto: channelo.dstv.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.