Video en foto’s: Louise onthou tydens emosionele roudiens by skool

'n Roerende roudiens is Woensdagmiddag by die Hoërskool Die Burger in Roodepoort vir Louise de Waal. Foto: Werner Beukes/SAPA

ʼn Roerende roudiens is Woensdagmiddag by die Hoërskool Die Burger in Roodepoort gehou vir Louise de Waal, wat ʼn week gelede ontvoer en vermoor is op pad skool toe.

Honderde roubeklaers, waaronder familie, vriende en leerlinge het onder ʼn wit markiestent bymekaargekom of afskeid te neem van Louise. Haar ouers en ander familielede het in die voorste ry gesit en moes kort-kort die trane wegvee terwyl daar hulde gebring is aan hulle dogter en suster. Een van die leerlinge het die lied ‘Over the rainbow’ op die saxofoon gespeel. Die roudiens is op die skool se sportgronde gehou waarna familie en ander roubeklaers na buite beweeg het waar duiwe en pienk ballonne die lug ingelaat is. Die departement van onderwys sê intussen hy sal veiligheid by die skool opskerp nadat nog ʼn leerder van die skool vanoggend met ʼn skroewedraaier gedreig is. Die polisie sê ʼn 18-jarige meisie het glo op die sypaadjie naby die skool gesit toe ʼn man haar gedreig het en in sy kattebak probeer dwing het. ʼn 21-jarige man is in hegtenis geneem in verband met die voorval.

Louise de Waal se ma Shireen, middel, tydens 'n roudiens by die Hoërskool Die Burger in Roodepoort. Foto: Werner Beukes/SAPA

Louise is tydens die roudiens as ʼn intelligente meisie beskryf wat saggeaard was. Die hoof van die skool, Basie Smit, het ʼn baadjie aan Louise se ma oorhandig. Louise is vroeër die jaar tot prefek verkies. Louise se ma, Shireen, het in trane uitgebars toe Smit die baadjie aan haar oorhandig het. ʼn Polisiewoordvoerder, Tshisikhawe Ndou, het vroeër bekendgemaak dat die verkoolde lyk wat verlede week op ʼn verlate plaas in Magaliesburg gevind is, dié van De Waal is. Die 35-jarige Johannes Steyn het hom Donderdagoggend by die Margate-polisiestasie oorgegee. Volgens die polisie het Steyn erken dat hy De Waal ontvoer, verkrag en vermoor het. Steyn het ook erken dat hy die “Sondag-verkragter” is. Hy het vlugtig Maandag in die Krugersdorp landdroshof verskyn waar hy tereg staan op 13 aanklagte van verkragting, 10 van ontvoering, een van moord en ses van seksuele aanranding. Die saak is uitgestel tot 13 Desember vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.