Video: Gebaretaaltolk erken hy is “die groot bedrieër”

thamsanqa jantjie

Skermskoot uit die video

Die video volg onderaan die berig. Thamsanqa Jantjie, die gebaretaaltolk by Nelson Mandela se gedenkdiens, het homself “die groot bedrieër” genoem.

“Selfs al noem hulle my ʼn bedrieër, is ek die grootste bedrieër (“fake”) omdat ek ontbloot wat in die regering en in die stelsel aangaan,” het Jantjie in videogreep, wat op Facebook beskikbaar is, gesê.

Jantjie is in die video saam met ʼn groep mans wat binne-in ʼn motor sit terwyl hy by die oop passasiersvenster met hulle staan en gesels. Hy dra ʼn blou T-hemp met die woord “Sterkfontein” daarop – ʼn psigiatriese hospitaal in Krugersdorp. Jantjie is glo verlede week weer in dié hospitaal opgeneem.

Jantjie se gebrek aan tolkvaardighede by voormalige president Nelson Mandela se gedenkdiens by die ENB-stadion op 10 Desember het wêreldwyd reaksie uitgelok. Die dowe gemeenskap was ontstoke en besorg oor die feit dat hy binne reikafstand van die wêreld se grootste leiers was.

Jantjie het na die gedenkdiens erken hy ontvang behandeling vir skisofrenie en dat hy ʼn pasiënt by Sterkfontein was. Hy moes glo op dieselfde dag as die gedenkdiens by die hospitaal aangemeld het, maar het nie sy afspraak nagekom nie. Hy het aan talle mediahuise gesê hy het tydens die gedenkdiens ʼn skisofreniese episode beleef en engele gesien. Hy voer aan hy het paniekerig geword toe hy besef hy is omring deur gewapende polisie.

Jantjie is in die video bewus daarvan dat hy verfilm word, en vra die mans om nie die video te versprei nie, en sê “hierdie beeldmateriaal kan iewers beland”. Die mans verseker hom dat hulle nie die beeldmateriaal sal versprei nie, en hy hou aan om met hulle te gesels.

Jantjie sê hy is ʼn advokaat vir mense met gestremdhede en sê die behoeftes van persone met gestremdhede moet aangespreek word. “Ek is hier vandag, ons mense is buite sonder rolstoele. Daar was niemand daardie dag met ʼn rolstoel toe ek getolk het nie en dan sê julle vir my ek is verkeerd. Waar was die reg as ek verkeerd was?” vra hy.

Jantjie het glo ook in Desember 2012 by die ANC se nasionale konferensie in Mangaung die tolkwerk hanteer. Die ANC het homself van Jantjie gedistansieer en voer aan ʼn diensverskaffer het hom aangestel.

Jantjie is egter in diens van ʼn maatskappy wat deur Bantubahle Xozwa, hoof van die ANC se afdeling vir godsdienstige en tradisionele sake, besit word. Die maatskappy se naam is South African Interpreters. “Thamsanqa is nie ʼn tolk nie,” het Xozwa gesê. Hy het gesê Jantjie het in sy eie hoedanigheid by die gedenkdiens getolk.

Buiten Jantjie se geestelike gesondheidsprobleme, het hy ook erken dat hy deel was van ʼn groep mense wat twee mense in 2003 aan die brand gesteek het. “Dit was ʼn gemeenskapsding, waar die gemeenskap reg in eie hande geneem het. Ek was ook daar,” het Jantjie gesê.

Hy en verskeie ander het aanklagte van moord, poging tot moord en ontvoering in die gesig gestaar. Klagtes teen hom is laat vaar, aangesien hy onbevoeg verklaar is om verhoor te word.

Die video volg onderaan die volgende skakels.

Lees ook:
Gebaretaaltolk in psigiatriese hospitaal opgeneem
Gedenkdienstolk: “Ek tolk al jare lank”
Mandela-diens: Gebaretaaltolk werk vir ANC-man
Gebaretaaltolk: NVG kry nie hofdokumente nie
Mandela-diens: Gebaretaaltolk aangekla van moord
Regering “nie verleë” oor gebaretaaltolk
Gedenkdiens-tolk beweer hy is skisofrenies
Mandela-diens: Tolk was ‘n “bedrieër”

Die video is op Yonela Solomon se Facebook-blad beskikbaar vanwaar Maroela Media dit op die berig ingetrek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Demokraat ·

En die ANC-regering swyg ook Jantje se sekuriteitsklaring soos wat hy swyg oor die Gupta-landing op Waterkloof, die spandering van miljoene op Nkandla, die verdwyning van miljoene vanweë korrupsie in die staatsdiens, oor Zuma en die wapenskandaal en vele ander.

Dis tog net nie moontlik dat die ANC-regering die seën van die Hoërhand waardig kan wees nie. Die deurgaanse swygsaamheid van die Kerk is nogal opvallend – moet die Kerk nie juis ‘n vermanende stem van hom laat hoor nie ?

Adri ·

Wat ‘n skande! Wat wil die ANC nog wegsteek? Zuma bedrieg ons elke dag nie om sy skelm korrupte vriende te noem nie en dan skuil hul agter ‘n man soos Mandela. Hul doen juis dit wat Mandela nie wou gehad het nie. Zuma is soveel antwoorde aan sy mense verskuldig maar hy voeter net voort vir bedrog, spy tapes, Nkandla, verkragting, sy inmenging met Selebi en Shabir Shaik se vrylating, sy leuns oor Mandela se gesondheid. Dit is tyd dat hy sy pie vat en waai. As ek vandag kon…………………….ja

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.