Die video volg onderaan die berig.
Die Griekse dorp Lixourion op die eiland Caphalonia, aan die westekant van die Griekse skiereiland, is Sondagmiddag deur ‘n aardbewing van 6,1 op die momentmagnitudeskaal getref. Volgens die jongste berigte is net twee mense beseer, maar volgens berigte is net enkele geboue in die dorp nie minstens lig beskadig nie. Skole is vandag gesluit sodat kundiges eers kan bepaal of die geboue veilig is.
Die beseerdes moes na ‘n hospitaal op ‘n naburige dorp geneem word omdat Lixouron se hospitaal erg beskadig is, en ‘n deel van die dak ingesak het.
Die oorspronklike skudding is reeds deur verskeie baie sterk naskokke gevolg, waarvan die sterkste M 5,4 gemeet het. Die naskokke het bykomende skade aangerig en die nooddienswerk deur die nag “ongemaklik” gemaak, volgens die Griekse owerhede. Van die naskokke was so sterk dat dit tot in Albanië en in Italië gevoel is.
Die episentrum was net 3 km van die dorp, en betreklik vlak op 12,3 km.
Die hoofskudding was die sterkste aardbewing die afgelope week op enige plek op aarde. Sedert die begin van die jaar is nog min sterk aardbewings aangeteken, en nog geen grotes nie.
Bronne: USGS