Video: Groot pret in Pretville

Liefhebbers van Afrikaans musiekrolprente, borrelgom en melkskommels kan gerus ʼn merkie in hul  dagboek maak vir wanneer Pretville op 23 November op die silwerdoek begin draai.

Pretville is ’n splinternuwe musiekrolprent uit die stal van die vervaardigers van Liefling, die Movie, waarin Bobby van Jaarsveld een van die hofrolle vertolk het.

Pretville is ’n klein dorpie in die laat 1950’s. Daar is alles moontlik en allerhande interessante dinge gebeur. Dit is ’n helder, kleurvolle, swierige en stylvolle dorpie met ’n asemrowende stel, kostuums en veteraanmotors wat die verbeelding aangryp. Pretville doen sy naam gestand – daar is altyd pret.

Die internasionaal bekende komponis en liedjieskrywer, Machiel Roets, wat die afgelope 12 jaar in Londen musiekregisseur was vir baie pantomimes en musiekblyspele, het na Suid-Afrika teruggekeer om meer as 20 nuwe liedjies vir die rolprent te komponeer. Hierdie liedjies is tipies van die vyftigerjare.

Pretville is die blyplek van ’n hele paar baie bekende akteurs en sangers, maar daar is ook nuwe intrekkers met nuwe, vars talent wat ʼn mens gaan verras. Hartiwood Films het gesê hulle is trots om weer baanbrekerswerk in die Afrikaanse filmbedryf te doen. “Na die uitreiking van Pretville sal geen dorp in Suid-Afrika ooit weer dieselfde wees nie,” het hulle gewaarsku.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.