Video: Hawelose man en sy ‘kind’ herenig

‘n Video volg onderaan die berig. ‘n Paar inwoners in Florida in Amerika het saamgespan om seker te maak dat ‘n hawelose man en sy hond, wat hy sy “alles” noem, te herenig.

Handover, ‘n blou veghond wat aan James Bryan van Hudson in Florida behoort, het op 8 Mei vermis geraak. Carolyn Texter, ‘n vriendin van Bryan wat by ‘n dierebeskermingsvereniging werk, het op sosiale media en deur middel van plakkate ‘n beroep op inwoners gedoen om op die uitkyk te wees vir Handover. Bryan se oorlede vrou het glo, net voordat sy aan kanker gesterf het, die hond vir hom gegee om seker te maak dat hy nie alleen sal wees nie.

Texter se vriende en plaaslike inwoners het saamgespan en selfs geld ingesamel in ‘n poging om ‘n beloning uit te reik vir Handover. Die bladsy op Facebook, Help find Handover, het binne ‘n oogwink meer as 5 000 ondersteuners gehad.

Volgens Fox 13 het ‘n plaaslike egpaar Handover, kort nadat hy vermis geraak het, opgespoor. Hulle het vir hom gesorg totdat hulle een van die plakkate, wat in die gebied opgeplak was, gesien het. Die egpaar het met Bryan se “soekspan” in verbinding getree en die Facebook-bladsy het verlede week Woensdag bevestig Bryan en Handover is herenig.

“Ek het op my knieë geval en soos ‘n baba begin huil,” het Bryan aan Fox 13 gesê. “Ek het twee weke lank gehuil. Ek het elke oggend opgestaan en dan is my hond nie hier nie. Dit is soos om een van jou kinders te verloor.” Bryan se grootste vrees was glo dat iemand sy hond gesteel en hom vir hondegevegte ingeskryf het.

Die gemeenskap poog nou om permanente verblyf vir die twee op te spoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.