Video: Huldeblyke aan Boeremusiekikoon Nico van Rensburg

Foto: www.boeremusiekgilde.co.za

‘n Video volg onderaan die artikel.Die bekroonde konsertinaspeler Nico van Rensburg, is in Centurion met die klank van boeremusiek deur familie en vriende gegroet.

Die boeremusieklegende is Donderdag by sy begrafnis vereer as ‘n meesterkomponis, ‘n ikoon vir die ouer geslag en vaderfiguur vir jong musikante. Van Rensburg is op 12 Mei in die ouderdom van 76 ná ‘n hartaanval in die 1 Militêre Hospitaal in Pretoria dood.

Die ATKV het die volgende huldeblyke aan Maroela Media gestuur:
Ollie Viljoen:
“Toe ek in 1956 as koshuisstudent en vreemdeling by UP aanmeld vir studie, was Nico van Rensburg die eerste persoon wat my in my kamer kom groet het. Hy het my genooi om die volgende aand in sy orkes te kom speel. So het ’n wonderlike vriendskap, maatskap, saamwerk en saamspeel ontstaan tot en met sy heengaan. Al die staaltjies en humor wat ons deur al die jare beleef het, sal my altyd bybly. Hy was ‘n nederige mens, ’n ware vriend.

Theo Erasmus:
“Ek ken vir Nico vanaf 1956 toe ek 14jr oud en in St. 7 was. Ek het toe al van sy konsertinaspel gehou want hy was die enigste musikant wat na Fanie Bosch sukses behaal het. Min het ek geweet dat ons aangetroude swaers sou word want ons is albei met Fanie se jongste twee sussies getroud. Nico was vir baie jare vaste speler in my Springbok Boereorkes. Hy het altyd met groot genot “funky” gespeel, “gepunch” en “geswing”. Ons het ons grootste konsertinalegende verloor. Tosiens ou Grote.”

Tinus Esterhuizen:
“Boeremusiekmusikant uit die boonste rakke. Nico was meesterkomponis, ikoon vir die ou geslag, vader vir die jonger geslag, leermeester, musiekmens en vertoonkunstenaar. As musiekregisseur van die SAUK het ek en hy noue bande gehad. Hy was ‘n ware gentleman. Sy eiesoortige styl het menige konsertinaspeler laat regop staan en min kon sy vernuf op beide die 3 en ‘n driekwartry en boerepompie nadoen. Sy wysies was legendaries. Ons het ‘n puik musikant en mens verloor.”

Paul Ferns:
“Ons het as jong seunspelle saam grootgeword, saam gedink, geskrum, gekuier, musiek gemaak, mekaar se lief en leed met ‘n passie gedeel en ondersteun – tot nou toe…Dit was ‘n onvergeetlike voorreg. Dankie, ou maat dankie.”

Steve Hofmeyr:
“As ‘n Boeremusieklegende soos oom Nico sterf, is dit vir my soos ‘n monument wat val. Dit los ‘n enorme gaping in my erfenis. Dankie vir jare se groot glimlag en vrolike vastrap. Ons sal nie vergeet nie.”

Sakkie Kotze
“Nico het ‘n lewenslange bydrae gelewer tot die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur d.m.v. sy voorliefde vir en meesterskap van boeremusiek. Hy is alreeds in 2000 met ‘n ATKV-oorkonde vereer vir sy jarelange bevordering van boeremusiek. Met sy 75e verjaarsdag het ons gesorg dat daar ‘n konsertinakoek op die tafel is. Ons het toe ook aan hom ‘n spesiale gedig voorgedra:
As 16-jarige het die musiekgogga hom al gebyt
hy speel kitaar en banjo en is daaroor nie spyt
Later het die konsertina se klanke begin rol
en van toe af het die dansers begin jol
Hy en Flippie het baie die verhoog gedeel
want niemand kon konsertina soos hulle speel
Nico is vir SA ‘n baie groot musiekbate
met eie orkes, 100 eie komposisies en 70 plate
SA-kykers is in 1984 en 1990 voor die TV vasgepen
want hy’t altwee jare die musiekkompetisie gewen
Hy is vir baie jare al boeremusiekleier van formaat
en steeds word daar oor sy bedrewenheid gepraat

Radio Pretoria:
Nico het elke Vrydagaand die program Skoffelklanke aangebied. Hy het elke ses weke ses programme kom opneem. Sy laaste program is laas Vrydag uitgesaai en hy sou vandag weer ingekom het vir more en die volgende weke se programme. Ons saai Vrydagaand ‘n spesiale huldigingsprogram oor hom uit. Ons is bly dat ons nog na sy musieknatalenskap sal kan luister en dat sy konsertinaklanke nooit stil sal word nie.”

Kultuurorganisasies:
Afrikaanse Volksang- en Volkspelebeweging
“Dit was ’n voorreg om hom te ken en te kon deel in sy talente en wonderlike nalatenskap. Ons moet voortbou daarop wat Nico van Rensburg voorgelewe het deur die beskerming van ons kultuurerfenis; die jeug aktief te betrek by ons kultuurerfenis en erkenning te gee aan musikante en kultuurvennote.”

ATKV
“Die ATKV bring graag hulde aan Nico van Rensburg vir die rol wat hy gespeel het in die vestiging en bevordering van boeremusiek. Hy was ’n uitstekende musikant en waardige ambassadeur in hierdie belangrike deel van Suid-Afrika se kultuurskatte. Hy het dit as ‘’n lewendige kultuurerfenis uitgeleef. Sy nalatenskap sal nog lank onthou en gebruik word. Ons eer sy nagedagtenis.”

Boeremusiekgilde:
“As Stigterslid van die Boeremusiekgilde, was Nico vir nege jaar agtereenvolgens die Hoof Uitvoerende Beampte. Hy is ook verskeie kere as ere-President verkies. Hy het ook die amp van Beskeermheer beklee. Hy was ‘n musikant wat boeremusiek en sy musiekinstrument geken het. ‘n Uitnemende komponis, ‘n orkesleier en musikant wat altyd bereid was om sy kennis van sy instrument met ander te deel. Nico, ons gaan jou goeie oordeel en positiewe lewensuitkyk mis, en wees verseker “Two Sharp” sal lewenslank met ons wees.”

Die Erfenisstiging:
“Ons bring hulde aan die legendariese Nico van Rensburg wat deur middel van Boeremusiek so veel gedoen het om die Afrikaanse kultuur te bevorder en lewendig te hou. Ons sal hom ook onthou as ywerige deelnemer aan kultuuraktiwiteite hier by die Voortrekkermonument. Sy bydrae het ’n verskil gemaak en ons eer sy nagedagtenis.”

FAK
“Nico se nagedagtenis as boeremusiekikoon en begaafde musikant sal bly voortleef. Die aktiewe manier waarop hy homself beywer het om boeremusiek op die voorgrond te plaas en te bemark, het ongetwyfeld bygedra tot die voortbestaan en uitbreiding van die tradisie van boeremusiek.”

SA Boeremusiekklub
“Nico het groot spore agtergelaat van ‘n man met groot liefde vir sy gesin en ‘n besonderse liefde vir boeremusiek uitgestraal wat ‘n mens nie kon miskyk nie. Hy het altyd tyd gemaak om ons konsertinaspelers wat sukkel te help. As mentor sal hy altyd in ons gebede bly.”

Tradisionele Boeredansvereniging
“Ons was bevoorreg om die vrolike note wat Nico op sy unieke manier laat hoor het, in passies om te sit. Niemand kon onaangeraak na sy musiek luister nie, almal se voete het gejeuk. Hy het die konsertina laat lewe. Nico se vingers op aarde het stil geword, maar sy musiekskat sal beslis bly voortleef en behoue bly.”

Tradisionele Boeremusiekklub
“As beskermheer en konsertinaspeler van formaat, het hy sy plek met trots volgestaan. Hy was ‘n man van statuur, nederig, behulpsaam en ‘n ware steunpilaar. In sy eie reg was hy ‘n ware boeremusiekikoon. Ons groet jou. Daar het ‘n Man verbygegaan.”

Die insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus op kykNET, DStv-kanaal 144, elke aand om 19.00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.