Video: Hy het die wedren verloor, maar harte verower

Iván Fernández Anaya van Spanje het onlangs bewys dat wen nie altyd alles in die lewe is nie.

Anaya het op 2 Desember aan ‘n landloopkampioenskap in Burlada, Spanje, deelgeneem en was in die tweede plek, ‘n hele ent agter die wenner, Abel Mutai van Kenia. Mutai het in 2012 tydens die Olimpiese Spele in die derde plek in die 3 000m-hinderniswedren geëindig.

Met die eindstreep in sig, het Anaya gesien dat Mutai – die seker wenner van die landloop – ‘n fout maak en sowat 10m voor die eindstreep aftrek. Mutai was onder die indruk dat hy reeds oor die eindstreep gehardloop het. Hy het hom na Mutai gehaas, maar in plaas daarvan om Mutai se fout uit te buit, het hy agter Mutai gebly en hom met handgebare tot oor die eindstreep gelei, en eerste laat eindig.

Anaya neem al 24 jaar lank aan wedrenne deel en word as ‘n atleet met ‘n reuse toekoms beskou. “Selfs al sou hulle vir my sê dat ‘n wenposisie my ‘n plek in die Spaanse span vir die Europese Kampioenskappe sou beteken, sou ek dit nog steeds nie kon doen nie. Ek dink ook dat ek ‘n beter naam vir myself gemaak het deur eerlik te wees as om te wen. En dít is baie belangrik, want vandag, met hoe dit in alle kringe gaan, in sokker, die samelewing, politiek, lyk dit of enigiets toegelaat word. ‘n Gebaar van eerlikheid strek verder,” het Anaya gesê.

http://youtu.be/azgL23K_8zU

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.