Video: Italiaanse jaer, Marco Simoncelli, sterf na ongeluk by Maleisiese MotoGP

Die foto van Marco Simoncelli is op sy amptelike webtuiste aangebring na sy dood.

Huldeblyke stroom in vir die Italiaanse Honda-jaer, Marco Simoncelli, nadat hy Sondag gesterf het in ‘n ongeluk in die tweede rondte van die Maleisiese MotoGP.

Simoncelli was 24. Beamptes by die MotoGP sê Simoncelli is by die mediese sentrum by die Sepang-baan behandel waar hy 45 minute na die ongeluk aan sy beserings beswyk het. Hy het ernstige bors, kop en nekbeserings opgedoen. Die resies is gekanselleer. Simoncelli het teen Colin Edwards (VSA) en Valentino Rossi (Italië) gebots toe hy beheer verloor het oor sy Honda by die eflde draai, vier minute nadat die resies begin het. Sy valhelm is tydens die ongeluk van sy kop afgeruk. Die ander twee jaers is nie beseer nie. Die Formule Een-renjaer, Mark Webber, het op die sosiale netwerk Twitter afskeid van Simoncelli geneem. “RIP Marco. ʼn Spesiale talent wat gemis sal word”. Die Britse MotoGP-jaer, Cal Crutchlow, het gesê Simoncelli was ‘n fantastiese jaer en persoon. “My gedagtes is by jou vriende en familie. Ek sal nooit die dag vergeet nie”.

Waarskuwing: Die video is nie vir sensitiewe kykers nie

http://youtu.be/vli696TQO6c

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.