Video: Juffrou tree op 94 af

Rose Gilbert

Rose Gilbert, ‘n onderwyseres van Los Angeles in Amerika, het nou in die ouderdom van 94 afgetree.

Gilbert is glo reeds in Graad 1 geïnspireer deur die onderwyseres wat haar geleer lees en skryf het. Haar onderwysloopbaan strek oor 63 jaar in die Los Angeles Unified School District.

“Ek is binnekort 95. Ek het in die spieël gekyk en gesê, ‘Ek beter nou aftree voordat ek te oud is,” het sy geskerts. “Ek wou nie aftree nie, maar ek wil ook nie op ‘n draagbaar uitgedra word nie.”

Gilbert het in die 1940s begin skoolhou, ‘n ruk lank opgehou en het toe haar loopbaan in 1956 voortgesit.

“Vandag se kinders is meer self-gesentreerd,” het Gilbert gesê. “Dit is ‘n generasie wat aanspraak maak op hul regte. ‘Ek maak aanspraak op ‘n A; ek maak aanspraak daarop dat ek by Harvard gaan studeer’. Ek dink dit kom van hulle ouers af.”

Dit is egter haar liefde vir kinders wat Gilbert aangespoor het. Haar welgestelde man het in 1987 met sy afsterwe haar met ‘n fortuin gelaat. Sy finansier beurse vir hoërskoolleerlinge en universiteitstudente. Sy het ook ‘n swembad, ouditorium en klein teater by die hoërskool laat bou.

Sy beplan om nou as ‘n vrywilliger by ‘n gesondheidskliniek en skuiling vir mishandelde vroue en kinders te werk.

“Ek het hope energie. Ek wil dit aan goeie sake toewy,” het sy bygevoeg.

‘n Video van Gilbert is in 2010 op YouTube gelaai:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.