Video: Kenners besorg oor tabletrekenaars vir kinders

Argieffoto

Argieffoto

‘n Video volg onderaan die berig. Pediaters en ander gesondheidskenners is glo besorg oor tabletrekenaars wat só maklik is dat selfs driejariges dit kan gebruik.

Mens hoef nie te kan tik of lees as jy ʼn tabletrekenaar wil gebruik nie, soos kleuters kan maklik leer hoe om rolprente te kyk, na familiefoto-albums te kyk of eenvoudige speletjies te speel.

Die toestelle was van die top geskenke vanjaar vir kinders. Samsung het ʼn tablet spesiaal vir kinders ontwerp en talle vervaardigers sluit nou ouerbeheer in vir tablette vir volwassenes. Daar is egter talle tabletrekenaars wat spesiaal vir kinders ontwerp word deur LeapFrog, Vtech en Toys ‘R’ Us.

Dr. Dimitri Christakis, ʼn pediater van die Seattle Children’s Hospital, het daarop gewys dat iPads nou net meer as drie jaar op die mark is wat beteken dat navorsing oor tabletrekenaars nog in sy kinderskoene staan. Christakis sê opvoedkundige speletjies en apps het waarde as dit ʼn kind laat deelneem en aanmoedig om interaktief met die toestel om te gaan, maar waarsku dat kinders nie te lank video’s op hul tabletrekenaars moet kyk nie.

Die Amerikaanse Akademie van Pediaters het voorgestel dat kinders nie langer as een of twee ure per dag met ʼn tablet moet speel nie, maar Christakis meen een uur is meer as genoeg. “Die belangrikste ding vir kinders is om tyd te spandeer saam met hul ouers of versorgers,” het hy gesê. “Niks is meer belangrik in terme van sosiale ontwikkeling nie.”

Dr. Rahil Briggs, ʼn pediatriese sielkundige by die Montefiore mediese sentrum in New York het gesê taalontwikkeling kan vertraag word indien kinders te veel tyd op tablette spandeer. “Daar is nog so min navorsing, kenners weet nie hoeveel tyd is te veel nie,” het sy gesê. Briggs voer aan ouer kinders se sosiale ontwikkeling kan vertraag word as hulle te veel tyd op ʼn tablet spandeer. “Die aard van die aktiwiteit lei daartoe dat kinders nie hul tyd gebruik om te leer hoe om vriende te maak of sosiale vaardighede aan te leer nie.”

Jill Buban, dekaan by Post University in Waterbury Connecticut, sê egter hoe meer kinders tegnologie voor skool kan leer en inneem, hoe makliker gaan hulle voel wanneer hulle vir die eerste keer by ʼn klaskamer instap. Sy het egter bygevoeg dat opvoedkundige apps gemonitor en beperk moet word. Sy beveel aan dat kinders nie langer as 30 minute voor ʼn tablet moet spandeer nie.
-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jack ·

Ek dink die meeste mense ruk die dam onder die eend uit met sekere “besorgdhede”. Kinders word groot met die middele wat tot hulle beskikking is van die vroegste tye af. Dit bepaal hulle vaardighede met die tegnologie tot hulle beskikking soos wat hulle groei en blootstelling geniet.

Ek glo kinders en jong mense wat dit ontneem word, raak agter met wat van hulle verwag word om vanselfsprekend “te weet” op enige gegewe tyd. My seun het van Std 6 af met my rekenaars gespeel en met al die rekenaar tegnologie beskikbaar ge-eksperimenteer waartoe ek hom toegang kon bied. Vandag is hy 29 jaar oud en ‘n top rekenaar spesialis in sy maatskappy.

Moenie kinders se groei belemmer omdat JY daarvoor bang is nie! Te veel van ons “oueres” vrees tegnologie en die daaglikse impak omdat hulle dit nie verstaan nie en uiteraard wantrou en wegskram daarvan. So, moenie jou eie onbekwaamheid vereenselwig met die “nodigheid” om kinders te veel te beheer nie en as sulks dit te ontneem nie. Gebruik “common sense” om die bekende euwels te beheer soos porn, ens. en gesonde oordeel hoeveel tyd hulle met goed spandeer – balans is die wagwoord met alles in die lewe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.