Die video volg onderaan die berig. Die bestuurder van ʼn skoolbus, wat by ʼn brug in Kansas, Amerika, afgery het, is Donderdag na veiligheid gebring en die skoolkinders het mekaar veilig uit die bus gehelp.
Die bus, wat tien skoliere vervoer het, het Donderdag omstreeks 16:00 in die water beland, het Kelly Herzet, hoof van die polisie, aan KSN gesê.
Nie een van die kinders het beserings opgedoen nie.
Herzet het gesê die oudste kinders, wat almal 13 jaar oud is, het die kleintjies deur ʼn luik gehelp. Hulle het bo-op die bus se dak gaan sit. Nooddiensbeamptes het ʼn tou gebruik om hulle na veiligheid te bring.
Die bestuurder van die bus, ʼn man in sy 60s, was langer as ʼn uur in die bus vasgekeer voordat die reddingspan hom kon help. Hy word by die Wesley-mediese sentrum vir verkluiming behandel.
“Die bus het gerol en ons het in die water beland,” het Logan Parker (12) aan KSN gesê. “Ons het tot bo-op die bus geklim en was twee en ʼn half ure lank daar vasgekeer. Ek het gedink ek gaan doodgaan en dat ek my ouma nooit weer gaan sien nie. Ek was baie bang.”
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie duidelik nie, maar swaar reën het Donderdag in die gebied geval en daar was glo water op die padoppervlak.
Dis ‘n wondewerk dat nie een van die kinders seer gekry het nie. En ook dat niemand dood is nie.