Video: Lego-mannetjie onderneem ruimtereis

ʼn Video is Woensdag op YouTube gelaai wat die merkwaardige ruimtereis van ʼn Lego-mannetjie op ʼn tuisgemaakte ruimteskip uitbeeld.

Volgens berigte het Mathew Ho en Asad Muhammad, twee leerders van Toronto en beide 17 jaar oud, ʼn weerballon aanlyn bestel en toe met polistireenskuim ʼn ruimtetuig gebou om die plastiek “ruimtevaarder” 24 km in die stratosfeer in te stuur. Die hoof van hul hoërskool, Lecourgos Papathanasakis, het die “merkwaardige ruimtereis” aan AFP bevestig, maar die twee tieners was nie vir kommentaar beskikbaar nie. ʼn Versnelde videogreep wys die hoogtepunte van die Lego-mannetjie gedurende sy 97 minuutlange reis. Aan die einde kan mens hom sien met ʼn Kanadese vlag met die aardkurwe en die swart ruim in die agtergrond. Luidens die Kanadese media het die twee leerders vier kameras en ʼn selfoon wat GPS (globale posisionering stelsel) kan aandui, aan die boks vasgemaak om die ruimtereis vas te vang. Hulle het daarna ʼn nylon-valskerm aan die plastiekmannetjie vasgemaak om seker te maak dat hy weer veilig sal terugkeer na die aarde. Die ballon is met helium wat hulle by ʼn partytjiewinkel aangeskaf het, gevul.

Hul uitgawes het minder as $500 beloop. Die paar het toe ʼn webwerf gebruik om te bepaal wat die geraamde landingsplek van die weerballon sal wees en die mannetjie is van ʼn sokkerveld in Newmarket, Ontario, lanseer. Sewe kilometer in die lug op het die ballon buite selfoonopvangs gereis en die GPS-sein het ook uitgesny. Die twee het toe glo huis toe gegaan om te gaan eet. En toe biep Ho se iPad-toestel. Die Lego-mannetjie was weer terug in die aarde se atmosfeer en het 120 km van die lanseerarea geland.

Kyk hier na die video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Welgedaan, nou moet ons net ‘n groot genoeg kettie bou om die eerste boer op die maan te kry:)

Paul ·

Daardie boer sal moet ken van droëlandboerdery as hy op die maan wil boer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.