Video: Man gevonnis wat dronkbestuur-moord op YouTube bely

Matthew Cordle

Matthew Cordle

Die video van die belydenis volg onderaan die berig. Matthew Cordle, ʼn man van Ohio, Amerika, wat in ʼn video op YouTube bely het dat hy in Junie weens dronkbestuur ʼn man doodgery het, is Woensdag gevonnis.

Cordle is ses en ʼn half jaar tronkstraf opgelê en sy rybewys is lewenslank opgeskort. Hy moet ook die regskoste dra en ʼn boete van $1 075 (sowat R10 750) betaal.

Hy het in September skuldig gepleit op ʼn aanklag van strafbare manslag en bestuur onder die invloed van alkohol. Die maksimumvonnis is agt en ʼn half jaar.

Cordle het in ʼn video, wat op 3 September op YouTube gelaai is, erken dat hy ʼn man doodgemaak het. Hy het kykers gemaan om nie onder die invloed van alkohol te bestuur nie. Die video volg onderaan die berig.

Die slagoffer is Vincent Canzani (61). Cordle het in die video gesê hy sal verantwoordelikheid aanvaar vir sy dade. “Ek aanvaar volle verantwoordelikheid vir alles wat ek aan Vincent en sy familie gedoen het,” het hy gesê.

Hy het ʼn paar dae, nadat die video opgelaai is, homself aan die owerhede oorgegee.

Hy het in September aan die regter gesê hy kan nie die aand van 22 Junie onthou nie, omdat hy weens te veel alkohol moontlik sy bewussyn verloor het. Hy het ook gesê hy het sedert die ongeluk nog nie weer alkohol gebruik nie en woon ook tweeweekliks ʼn alkoholrehabilitasieprogram by.

Canzani het glo met ʼn Jeep-voertuig gery toe hy naby Columbus deur ʼn voertuig, wat aan die verkeerde kant van die pad gery het, getref is.

Canzani se vrou, Cheryl Oates, het gesê sy is oortuig Cordle se berou is eg. “Hy het gesê hy het ʼn groot fout begaan en dat hy verantwoordelikheid sal aanvaar. Mens moet dit respekteer,” het Oates gesê.

Sy stem saam dat Cordle tronkstraf moet uitdien, maar sê dit is vir haar erg om die video te sien, omdat sy self twee seuns het. “Dit roer jou hart as ʼn ma om dié jong seun te sien, en hy begryp net nie die skade wat hy berokken het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.