Video: Man oorleef 15 verdieping-val

Tom Stilwell

‘n Man sterk tans in die hospitaal aan nadat hy uit die 15de verdieping van sy woonstelblok in Auckland, Nieu-Seeland, geval het.

Tom Stilwell (20) het Sondagoggend omstreeks 02:00 besef hy is uit sy woonstel in die Volt-woonstelblok uitgesluit. Hy het besluit om van die woonstel direk bo sy eie, buite om die woonstelblok, na sy balkon af te klim. Hy het glo probeer om op sy balkon te land toe hy geval en op die dak van ‘n aangrensende gebou geland het.

Hy is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem, maar sy toestand het Maandag baie verbeter.

Stilwell is glo oorspronklik van Engeland en is tans in Nieu-Seeland vir ‘n werksvakansie. Dave Thomas, Stilwell se vriend, het aan die New Zealand Herald-koerant gesê hy het nek- en rugfrakture, ‘n gebreekte gewrig en vermoedelik ook interne beserings opgedoen.

Geraldine Bautista, ‘n inwoner van die woonstelblok, het aan die koerant gesê Stilwell het omstreeks 02:00 aan haar deur geklop. Sy sê dit wou voorkom of hy onder die invloed van alkohol is, maar sy was nie bang vir hom nie. “Hy wou net weet of hy van my balkon af kan spring,” sê Bautista. Sy sê sy het nooit gedink hy sal dit doen nie. “Ek het gedink hy sal sien dis onmoontlik.” Nadat sy die deur oopgemaak het, het hy glo deur die woonstel geloop, en oor die reling van die balkon geklim. “Ek het sy hand gegryp, maar hy het geval,” het sy bygevoeg. “Dit het so vinnig gebeur. Dit het binne sekondes gebeur. Ek kon nie eers om hulp skree nie. Dit was soos ‘n stukkie papier wat geval het.”

Dr. Tony Smith, direkteur van St. John Medical, het aan die koerant gesê om só ‘n val te oorleef is “buitengewoon ongewoon”, maar die dak van die lae gebou het moontlik sy val genoeg gebreek om sy lewe te red.

http://youtu.be/uevZKQpP61E

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.