Video: Met ‘n spankoord oor die Grand Canyon

Nik Wallenda van Florida in Amerika het Sondag ʼn afstand van 400m op ʼn spankoord by die Grand Canyon sowat 460m bo die grond afgelê.

Die spankoord is gemaak van 50.8mm dikte staal. Wallenda (34) het die afstand binne 22 minute afgelê en moes twee keer stilstaan en hurk terwyl die wind rondom hom geruk het.

Wallenda het nie ʼn harnas aangehad nie en het regdeur die toertjie stadig en bestendig geloop en was glo die heeltyd in gebed met Jesus. “Dankie, Here. Dankie dat U die kabel stilmaak,” het hy ná sowat 13 minute gesê. Hy het die laaste paar treë gedraf en gehop.

Die gebeurtenis is regstreeks op die Discovery Channel uitgesaai.

Wallenda is al die sewende generasie in sy familie wat spankoordtoertjies uitvoer. Sy oupagrootjie is in die ouderdom van 73 dood tydens ʼn optrede in Puerto Rico toe hy geval het. Verskeie ander familielede is ook al dood weens die gevaarlike spankoordtoertjies wat hulle uitgevoer het.

Wallenda het in 2012 ʼn sewende Guinness-wêreldrekord ingepalm toe hy met ʼn spankoord oor die Niagara-valle gestap het.

Hy beoog om volgende die afstand tussen die Empire State-gebou en die Chrysler-gebou in New York af te lê.
http://youtu.be/rAclbDuSbMw

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.