Talle inwoners van Pretoria het Sondag op verskillende plekke in die stad waaronder die Uniegebou en die Dieretuin bymekaargekom vir die inploffing van die Munitoria-gebou.
Die gebou is die stad se ou hoofkantoor. “Die voorgeskrewe veiligheids- en voorkomingsmaatreëls is getref om te verseker dat die inploffing se impak op die nabygeleë inwoners, besighede en diere by die Pretoriase dieretuin verminder word,” het Teddy Habib, woordvoerder van Draco Demolition, gesê. Twee blokke rondom die gebou is voor die inploffing ontruim. “’n Nuwe hoofkantoor-gebou kan nou opgerig word,” het Jason Ngobeni, bestuurder van die stad, gesê. “Dienslewering sal deur die oprigting van die nuwe gebou, wat as Tshwane House bekend sal staan, verbeter.” Tshwane House sal kantoorspasie bied aan 1 500 munisipale werknemers. Die Munitoria-gebou is in die 1960s gebou en amptelik op 28 Februarie 1969 ingewy. Die struktuur is tydens vier verskillende voorvalle deur ‘n brand beskadig. Die 44-jarige gebou is omstreeks 12:00 ingeplof.