Enigiemand wat ooit ‘n gunsteling speelding gehad het, of kinders het wat ‘n gunsteling speelding verloor het, sal dié video waardeer.
Liam, ‘n seuntjie van Omaha, Nebraska, in Amerika, het, vir sy eerste verjaarsdag, ‘n blou speelgoedapie by sy ouma en oupa gekry. Liam het die apie “Ah-ah” genoem, en van die begin af was dié twee onafskeidbaar. Die gesin het in 2009 by die Rocky Mountain National Park in Colorado gaan kamp, en Ah-ah het op dié vakansie weggeraak. Hulle het oral gesoek, en almal gebel by wie hulle gestop het, maar niemand het die speelding gesien nie. Liam was baie hartseer, maar hulle kon die apie nêrens opspoor nie.
In 2012, toe Liam se ma op e-Bay, ‘n koop-en-verkoop webwerf, ‘n viool vir haar dogter gesoek het, het sy “blou apie” ingetik. Sy was verstom om Ah-ah in Florida op te spoor! Sy wou eers nie iets vir Liam sê voordat hulle die apie by hulle gehad het nie, om seker te maak dit is dieselfde speelding. Maar, toe Ah-ah opdaag, en hulle sien die skeurtjie in sy been waar Liam sy etiket uitgesny het, en die skroeimerkie bo-op sy kop, het hulle geweet, “Ah-ah is tuis”. Dié video is Liam en Ah-ah se hereniging.
http://youtu.be/Lk34j3HUJbE