Video: Nederlandse paartjie pleit om hul lewe

Die video volg onderaan die berig. ʼn Paartjie van Nederland wat in Jemen ontvoer is, het ʼn pleidooi deur middel van ʼn video op YouTube gelewer vir hul regering om op te tree sodat hulle vrygelaat kan word.

Joernalis Judith Spiegel en haar maat, Boudewijn Berendsen, wat verlede maand verdwyn het, sê in die video, wat op YouTube en Facebook gepubliseer is, dat hulle binne 10 dae tereggestel sal word. Dit lyk nie of die paartjie tans beseer is nie.

“Ons is hier in Jemen ontvoer en ons het ʼn groot probleem,” sê Spiegel. “Ons het met die ambassadeur van Nederland gepraat en vir hom gesê wat die voorwaardes vir ons vrylating behels, maar tot dusver het daar nog niks gebeur nie.”

“Hierdie mense is gewapen. Indien ʼn oplossing nie binne 10 dae gekry word nie, sal hulle ons skiet. Familie, media, inwoners van Nederland, doen iets, ons moet hier uitkom. Ons gaan nooit hier uitkom nie. Dis nou as ons nie binne 10 dae dood is nie!” sê Spiegel in die video.

Media in Nederland het berig dat Spiegel ʼn joernalis is wat in Sanaa, die hoofstad van Jemen, gebaseer is. Sy werk vir verskeie media-instansies insluitend die openbare uitsaaier NOS en die finansiële dagblad NRC Handelsblad.

Berendsen is in die versekeringsbedryf.

Spiegel en Berendsen het glo ook klas gegee by die Libanese Internasionale Universiteit in Sanaa.

Die polisie in Jemen het op 15 Junie bevestig dat die paartjie verdwyn het.

Frans Timmermans, minister van buitelandse sake in Nederland, het gesê die saak geniet die regering se “volle aandag”. “Maar ek moet byvoeg dat ʼn publieke pleidooi selde tot ʼn goeie oplossing lei,” het Timmermans op sy Facebook-blad gesê.

Honderde mense is in die afgelope 15 jaar in Jemen ontvoer, en meeste van hulle is later ongedeerd vrygelaat. Al-Qaeda-militante het egter ook ander uitlanders in die land ontvoer.

Intussen is daar nog geen nuus oor die Suid-Afrikaanse paartjie van Bloemfontein, Pierre en Yolande Korkie, wat in Mei 2013 in Jemen ontvoer is nie.

http://youtu.be/wIBNctcCKfA

Lees alles oor Pierre Korkie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.