Video: Nege sterf toe helikopter op kroeg se dak val

Glasgow helikopter-ongeluk

Foto: Andrew Milligan/PA

‘n Video volg onderaan die berig. ʼn Negende persoon se liggaam is Sondagaand in die puin opgespoor nadat ʼn polisiehelikopter Vrydagaand bo-op ʼn kroeg in Glasgow, Skotland, neergestort het.

David Traill (51), die helikoptervlieënier, en polisiekonstabels Kirsty Nelis (36) en Tony Collins (43) is onder die slagoffers.

Die polisie in Skotland sê hy kan nie in hierdie stadium die moontlikheid uitsluit dat nog liggame in die puin opgespoor gaan word nie.

Die helikopter het Vrydagaand omstreeks 22:25 neergestort.

Opruimingswerk duur voort om die wrak van die helikopter te verwyder.

Altesaam 32 mense is beseer en 12 van dié pasiënte is steeds in die hospitaal. Drie van die pasiënte is in ʼn ernstige, maar stabiele toestand in die intensiewesorgeenheid van die hospitaal.

Chris Yates, lugvaartkundige, het aan die BBC gesê ʼn omvattende ondersoek sal gedoen word sodra die helikopter verwyder en na ʼn ander perseel geneem is. Die lugvaartongeluk-ondersoekeenheid sal die oorsaak van die ongeluk probeer bepaal. Eurocopter, wat die EC135T2-helikopter vervaardig het, sal die ondersoekspan bystaan.

Die ondersoek kan egter tot ʼn jaar duur voordat dit afgehandel is.

David Learmount van die lugvaartnuuswebwerf, Flight Global, het gesê dit wil voorkom of die ongeluk moontlik deur ʼn meganiese fout veroorsaak is.

Daar was ongeveer 120 mense in die Clutha-kroeg in Stockwellstraat naby aan River Clyde, toe die helikopter die dak getref het. Ooggetuies het gesê die helikopter “het soos ʼn klip geval”.

Vlae hang halfstok regoor die stad en by regeringsgeboue in Skotland.

 

Visit NBCNews.com for breaking news, world news, and news about the economy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.