Video: Ondersoek kom ná paramedikus se arrestasie

Foto: Youtube

Garth van Zyl, die paramedikus wat deur polisiebeamptes op ʼn ongelukstoneel in hegtenis geneem is, het Donderdag in die hof verskyn en die saak is uitgestel tot volgende maand.

Van Zyl is Dinsdag deur twee polisiebeamptes in ʼn vangwa geprop nadat hulle hom glo verbaal mishandel en hardhandig hanteer het op ʼn ongelukstoneel in Lambrechtsstraat in Franschoek in die Wes-Kaap. Hy word daarvan aangekla dat hy die polisie verhinder het in die uitvoering van hul plig. Van Zyl beweer dat hy deur die brandweerhoof gevra is om verkeer te reguleer nadat ʼn vragmotor wat skape vervoer het omgeslaan het. Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê Van Zyl het gister in die hof verskyn en die saak is tot 12 Februarie uitgestel. “Die beskuldigde word ook aangekla in ʼn soortgelyke saak op dieselfde dag in Franschoek,” sê Ntabazalila. Hy kon egter nie besonderhede verskaf oor die tweede saak nie.

Dan Plato, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, het intussen ʼn skrywe gerig aan Arno Lamoer, provinsiale polisiekommissaris, en gevra vir ʼn dringende ondersoek na die voorval. “Die optrede van die twee polisiebeamptes wek ernstige kommer oor hulle vermoë om ʼn ongelukstoneel te bestuur en dui daarop dat hulle nie ʼn goeie verhouding het met die plaaslike gemeenskap nie aangesien hulle ʼn man, wat blyk om net te probeer help het, in hegtenis geneem het.” Lt. kol André Traut, ʼn polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig maar kon nie kommentaar lewer nie aangesien hulle steeds die saak ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.