Video oor ‘oorlogsmisdadiger’ is Youtube-treffer

Foto: Youtube

‘n Youtube-video oor die beweerde Ugandese oorlogsmisdadiger, Joseph Kony, en sy “kindersoldate” maak wêreldwyd opslae.

Die video deur Invisible Children is al meer as 15 miljoen keer gekyk op Youtube. Kony is die leier van die Lord’s Resistance Army (LRA). Die LRA voer al vir meer as 25 jaar ‘n skrikbewind in Uganda en omliggende lande. Die groep ontvoer glo kinders uit afgeleë dorpies voor hulle as soldate opgelei word. Die meisies wat ontvoer word, word gewoonlik as seksslawe gebruik. Invisible Children wil hê dat Kony voor die Internasionale Strafhof in Den Haag gedaag word, waar hy aangekla word van misdade teen die mensdom. Kritici het intussen die metodes van die nie-winsgewende organisasie bevraagteken met betrekking tot sy geldsake en ander praktyke. Die onderwerpe #stopkony en #kony2012 het Woensdag wêreldwyd op die sosiale netwerk Twitter “getrend”. Trending is ’n manier om vas te stel oor watter onderwerpe daar op ’n gegewe tydstip en in ’n spesifieke geografiese gebied die meeste op Twitter gesels word. Verskeie bekendes waaronder P Diddy, Rihanna, Kim Kardashian en Suid-Afrika se Die Antwoord het skakels na die video op Facebook en Twitter geplaas. Die Amerikaanse president, Barack Obama, het in Oktober 2011 aangekondig dat hy 100 spesiale magte na Uganda sal stuur om Kony te probeer vastrek.

Bronne: BBC en ander nuusagentskappe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.