Video: Paramedikus vas op ongelukstoneel

Foto: Youtube

ʼn Paramedikus is Dinsdag op ʼn ongelukstoneel in Franschoek in die Wes-Kaap in hegtenis geneem op aanklagte dat hy die polisie verhinder het in die uitvoering van hul plig.

Medicare-EMR-nooddienste sê op hulle Facebook-blad dat Garth van Zyl, eienaar van die nooddienste, deur die brandweerhoof op die toneel gevra is om die verkeer te reguleer nadat die polisie op die toneel glo nie aan die brandweerhoof se versoek gehoor gegee het nie. Volgens ʼn ooggetuie het twee polisiebeamptes Van Zyl verbaal mishandel. Die beamptes het hom glo gegryp en na die polisievangwa gesleep. Volgens die ooggetuie het Van Zyl ʼn gebreekte been wat in ʼn stut is. Van Zyl het glo gevra of hy self in die vangwa kan klim as gevolg van sy been waarna die polisiebeamptes glo gedreig het om hom met pepersproei te spuit en die “nodige krag” te gebruik. Volgens Van Zyl wou die polisie keer dat hy op borg vrygelaat word maar kon sy prokureur daarin slaag om hom dieselfde aand vrygelaat te kry. Van Zyl sal na verwagting vandag in ʼn hof in die Paarl verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Onregverdig ·

Wat vir my baie duidelik is, is dat jy 2 polisiemanne nodig het om ‘n man met ‘n gebreekte been (wat homself glad nie verset nie) te begelei na ‘n vangwa. Wat ook duidelik is, is dat hierdie polisiemanne glad nie kalm is nie (nie nodig om ‘n kenner te wees om te sien hoe die adrenalien hier pomp nie). Dit is duidelik dat hulle hierdie man as ‘n bedreiging vir iets sien – beslis ‘n groter gevaar as wat die gevaar is om nie die verkeersvloei te beheer op die ongelukstoneel.

Nou wonder ek net wat die man gedoen het om so ‘n reaksie te regverdig? Kan iemand dit asseblief vir my verduidelik? Ek koop nie die verduideliking dat hy slegs gearresteer is omdat ‘n brandweerman hom gevra het om verkeer te reguleer nie en dat die polisiemanne hom daarom verbaal mishandel het nie.

En moenie dink ek staan apaties teenoor die polisie nie – glad nie. My kritiek teenoor hulle is gewoonlik dat hulle te min doen om wet en order te handhaaf. Maar het hulle in hierdie geval nou weer te veel gedoen?

Op die oomblik, na bestudering van die video-materiaal, is my opinie dat die polisiemanne die situasie totaal verkeerd gehanteer het en heel moontlik kan hulle onbevoegdheid toegeskryf word aan ‘n gebrek aan behoorlike opleiding. Maar ek moet erken dat hierdie opinie van my slegs gebaseer is op wat ek gesien het (en ek het nie gesien wat aanleiding gegee het tot hierdie situasie nie).

Kan iemand dalk die ontbrekende stukke van die legkaart voltooi? Swak joernalistiek om slegs ‘n halwe storie te weergee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.