Video: Pendelaars gestrand toe Gautrein gaan staan

Paniekbevange passasiers gestrand gelaat ná Gautrein gaan staan het.

Passasiers word Sondag uit ‘n Gautrein wat onklaar geraak het gehelp. (Foto: Pieter Prinsloo).

Die een oomblik was dit nog volstoom huis toe en toe gaan staan ʼn Gautrein botstil.

Pieter Prinsloo sê hy was Sondag een van die passasiers op die Gautrein op pad van die OR Tambo-lughawe nadat hy pas teruggekeer het van ʼn troue in Durban, KwaZulu-Natal.

Die volgende oomblik, kort voor die Centurion-stasie waar Prinsloo sou afklim, het die trein skielik tot stilstand gekom.

“Dit was asof die trein skielik krag verloor het,” verduidelik Prinsloo.

Die eerste moontlikheid waaraan hy gedink het, was “wat as ʼn ander trein ons van agter stamp”.

Volgens Prinsloo het dit amper twee uur geduur voordat hulp opgedaag het.

“In dié tyd het twee treine teen ʼn hoë spoed by ons verbygekom… Ek het net bly hoop dat iemand die mense laat weet het ons staan stil en dat daar nie ʼn trein op ons lyn verbykom nie,” sê Prinsloo.

Intussen het benoude pendelaars self die nooddeure begin oopmaak. Volgens Prinsloo het die lugversorger ook opgehou werk toe die trein gaan staan het. Hy sê hy het self die polisie om hulp gekontak.

Gautrein-personeel het volgens hom eers ná sowat ʼn uur opgedaag om die gestrande passasiers by te staan.

“Hulle [Gautrein-beamptes] het houtlere by hulle gehad en ons moes van die stilstaande trein afklim en oorloop na die nuwe trein.”

Onder die passasiers was ʼn hoogswanger vrou. “Wat as sy gegly en van die leer afgeval het,” sê Prinsloo.

Hy meen Gautrein het nie die aangeleentheid met die nodige erns hanteer nie.

Kesagee Nayager, ʼn Gautrein-woordvoerder, het by navraag bevestig die betrokke trein het ʼn “tegniese probleem” ondervind. Sy het ook bevestig personeel het ingevolge die maatskappy se veiligheidsmaatreëls opgetree om passasiers na veiligheid te neem.

“Een van ons treine het om 16:25 ongeskeduleerd tot stilstand gekom. Ons bystandstrein het om 17:00 aangekom,” sê Nayager.

Sy kon nie bevestig wat presies tot die tegniese probleem gelei het nie.

“Ek kan bevestig dat die trein nog nie weer operasioneel is nie,” het sy gesê.

Volgens Nayager is alle passasiers op die trein teen 17:47 na ʼn ander trein oorgeplaas.

“Ons vra om verskoning aan ons kliënte vir enige ongerief wat veroorsaak is,” sê Nayager.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Heila Isabella ·

Weer eens n bewys van instandhouding nie gedoen nie, en onbevoegd alles moet mos net aanhou werk

Anonymouse ·

As jy dink dit gebeur net in Suid-Afrika dan was jy nog nooit uit die land nie. Het gereeld gebeur toe ek in die VSA gebly het. In die tonnels, met waens wat so tjokvol mense was dat dit gevoel het mens kon nie asemhaal nie.

domheks ·

Lekker, lekker! Ons ry gou op die Gautrein, en dan 2 ure later bereik ons ons bestemming! Net in die NUWE SA! Grap van die eeu!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.