Dokters het Donderdag aan Pippie se ma, Anice, gesê dat Pippie Dinsdag ontslaan kan word, maar dat sy steeds daagliks rehabilitasie by die kliniek in Aucklandpark, Johannesburg, moet ontvang. Pippie het glo verlede Sondag, vir die eerste keer sedert haar veloorplantingsoperasie in Junie, “Mamma” gesê. “Ek is so trots op haar. Sy het nog nie weer gepraat nie, maar dit is ‘n begin,” het Anice aan Rapport gesê.
Anice bly sedert die ongeluk in ‘n huurwoonstel in Melville, Johannesburg, en Pippie sal Dinsdag by haar intrek.
Sodra Pippie kan loop en kan praat sal hulle na hul huis in Ellisras kan terugkeer.
Pippie het ernstige brandwonde opgedoen toe ‘n bottel vuuraansteekmiddel Oujaarsaand in haar pa se hande ontplof het.
Die sanger Bobby van Jaarsveld, sy vrou Annatjie, en sy sussie, Karlien van Jaarsveld, het Donderdag by Pippie in die hospitaal gaan kuier. Hy het verskeie foto’s op sy Twitterblad gelaai en geskryf: “Ek saam my nuwe inspirasie vir die lewe…my engel Pippie Kruger…..”
Die gebruiker BeeldVideo het dié video op YouTube gelaai: