Video: Polisieman in hof oor aanranding

WAARSKUWING: Die video bevat tonele van erge aanranding en kan sensitiewe kykers ontstel.

Foto: Youtube

ʼn Polisieman van Vaalwater in Limpopo sal na verwagting vandag in die hof verskyn nadat hy glo ʼn man erg aangerand het terwyl hy hom in hegtenis geneem het en die voorval op ʼn selfoon opgeneem is.

News24 berig dat die Onafhanklike Klagtedirektoraat bevestig het dat hulle ʼn saak van polisiebrutaliteit ondersoek. Die Sowetan het eerste verlede jaar oor die voorval berig maar die beeldmateriaal is eers onlangs op Youtube geplaas. Die video wys hoe die polisieman die 19-jarige man skop, slaan en rondruk voor hy hom in die vangwa laai. Die Sowetan berig die slagoffer is Norman Mokau. Die voorval het glo op 24 November verlede jaar plaasgevind buite ʼn kroeg. Mokau sê hy het saam met ʼn paar vriende snoeker gespeel toe hy per ongeluk ʼn venster gebreek en sy hand gesny het. Dit het glo erg gebloei en is met verbande toegedraai. Mokau sê die volgende oomblik het die polisieman hom gegryp en begin aanrand. Hy het ʼn klag van aanranding teen die polisiebeampte aanhangig gemaak. Volgens berigte het die polisiebeampte na die voorval vir ʼn ruk as waarnemende stasiebevelvoerder van die Vaalwater-polisiestasie gedien. Limpopo se polisiewoordvoerder, brig. Hangwani Mulaudzi, kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

WAARSKUWING: Die video bevat tonele van erge aanranding en kan sensitiewe kykers ontstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Albert Venter ·

Hierdie tipe gedrag van ‘n “Beampte wat die die Wet en Orde ” moet handhaaf is ONAANVAARBAAR. Hierdie beampte behoort aan gekla te word van (1) aanranding met die doel om ernstig te beseer (2) Poging tot moord (hy sleep die man aan sy hemp terwyl verwurging kan plaasvind (3) “Contravention of the SA Constitution” en die lys is eindloos. Daarbenewens behoort die persoon wat in die video verskyn ook aangekla te word van medepligtigheid. Afgesien daarvan wat die oortreding ook al was behoort GEEN publieke persoon op hierdie manier behandel te word nie. Ek sal graag wil sien of hierdie persoon se toestand ten tye van die inbespreking by die stasie genoteer was of nie. Die SAPD assook STAAT behoort hierdie tipe gedrag in ‘n ernstige lig te beskou en ek sou voorstel dat elke SAPD beampte ‘n liggaam kamera dra ten tye van op diens wees en arrestasies. Indien enige arrestasie nie op band is nie behoort daardie SAP beampte aangekla te word. Geen beampte is bo die wet nie Kom SA raak ernstig aangesien U, Meneer of Mevrou die volgende prooi van sulke beamptes mag wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.