Video: Polisieman slaan ruit stukkend, brand los op kar met vyf kinders in

polisie nieu-meksiko‘n Video van die voorval volg onderaan die berig. ʼn Polisiebeampte het ná ʼn roetine-ondersoek in Nieu-Meksiko, Amerika, ʼn stasiewa, met ʼn ma en haar vyf kinders in, se ruit stukkend geslaan en ʼn tweede beampte het skote op die voertuig gevuur.

Die hoof van die polisie het onderneem dat ʼn volledige ondersoek van stapel gestuur sal word. Die voorval is op 28 Oktober op die polisievoertuig se paneelbordkamera vasgelê. Die video is pas deur KRQE in Albuquerque uitgesaai.

Die polisie het Oriana Ferrell (39) afgetrek nadat sy die spoedgrens verontagsaam het. ʼn Beampte het die voertuig genader en haar versoek om te wag, maar sy het weggery. Toe sy vir ʼn tweede keer afgetrek is, het die situasie vererger. “Klim uit die voertuig! Klim nou uit die voertuig!” het een van die beamptes vir Ferrell geskree. Sy het uitgeklim, maar haar 14-jarige seun het ook uitgeklim en op die beampte afgestorm. Die kind het ná ʼn onderonsie teruggespring in die voertuig.

Polisiebeamptes, wat ondersteuning bied, het intussen opgedaag. Een van die beamptes het hierna sy knuppel gebruik om die passasiersruit stukkend te slaan. ʼn Tweede beampte, het daarna drie skote op die stasiewa gevuur terwyl dit weggejaag het.

Die polisie het Ferrell uiteindelik buite ʼn hotel aangekeer. Sy is in hegtenis geneem en word aangekla van die opsetlike misbruik van ʼn kind en dat sy voor ʼn polisiebeampte gevlug het. Die seun is in hegtenis geneem en word aangekla van aanranding.

Pete Kassetas, hoof van die polisie in Nieu-Meksiko, het die voorval as ʼn “intensiewe, 43 minuutlange, gevaarlike situasie” beskryf “wat die publiek in gevaar gestel het”.

Ferrell is ook aangekla van die besit van dwelmtoebehore. Sy is vantevore aangekeer vir dronkbestuur en twee vermeende daggapype is destyds ook in haar besit gevind.

Die vier kinders, tussen 6 en 18 jaar oud, is in die sorg van familievriende.

Visit NBCNews.com for breaking news, world news, and news about the economy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.