Video: Renoster vrek drie weke na stropery

Themba. Foto: Kariega-natuurreservaat

ʼn Renosterbul wat se horing aan die begin van die maand in die Kariega-natuurreservaat naby Kenton-on-Sea gestroop is, het Sondagoggend gevrek.

Drie witrenosters se horings is op 2 Maart in die reservaat gestroop. Een van die renosterbulle het gevrek. Die twee oorlewende renosters is onderskeidelik Themba en Thandiswa gedoop. Dit is Xhosa-name wat hoop en dapperheid beteken. Themba se karkas is omstreeks 9:00 Sondagoggend by ʼn watergat op die reservaat gevind. Hy het erge weefselskade aan sy linker-agterbeen opgedoen tydens die stropery en het die afgelope drie weke amper daagliks behandeling ontvang. “Die hele Kariega-span is verwoes deur hierdie verlies na so ‘n toegewyde poging om sy lewe te red. Ons waardering aan al diegene se ondersteuning die afgelope 3 weke. Ons sal hom baie mis en sal streef om sy nalatenskap lewendig te hou in ‘n poging om al die renosters van dieselfde lot te spaar,” het die reservaat gesê.

Die reservaat het vroeër die maand ʼn video bekendgestel van Themba en Thandiswa se stryd.

WAARSKUWING: Die video kan sensitiewe kykers ontstel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.